Drie vermeende rowers is dood en ʼn vierde kritiek beseer nadat hulle van ʼn misdaadtoneel af gevlug en hul motor teen aankomende verkeer op die M3-snelweg in Constantia in die Wes-Kaap gebots het.
Lt.kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê vier mans het na bewering by ʼn huis in Dieprivier ingebreek en met verskeie huishoudelike items in hul Toyota Corolla gevlug. Beamptes van ʼn privaatveiligheidsmaatskappy het die verdagtes se motor agternagesit en ʼn hoëspoed-jaagtog het gevolg.
“Die verdagtes het aan die verkeerde kant van die pad op die M3 gery in hul Toyota Corolla en met twee aankomende voertuie gebots. Drie van die verdagtes is op die toneel dood en die vierde is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal opgeneem,” het Traut gesê.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die drie verdagtes was met hul aankoms op die toneel reeds dood. Reddingswerkers moes meganiese toerusting gebruik om die vierde verdagte uit die motor te sny.
“Drie ander pasiënte op die toneel, waaronder ʼn vyfjarige seuntjie, is vir ligte tot matige beserings behandel. Hulle is daarna na verskillende hospitale geneem vir behandeling,” het Meiring gesê.
Volgens Traut is van die gesteelde items in die verdagtes se motor gevind.
Blinde sambok!!!!!!
In die movies ry die aankomende verkeer een links en dan een regs voor jou in maar niemand stamp jou nie. Dalk het die 4 te veel flieks gekyk. Gelukkig het die onskuldiges nie ernstige beserings opgedoen nie.
Lewe met die swaard in jou hand, gaan heen met die swaard.