Drie SA naellopers deur na halfeind

Clarence Munyai. (Foto: Anton Geyser/SASPA/SASI)

Anoso Jobodwana, Clarence Munyai en Shaun Maswanganyi het na die halfeindronde van die 200 m deurgedring.

Munyai het die vinnigste tyd van die drie aangeteken nadat hy vierde in sy uitdun geëindig het. Hy het ʼn seisoenbeste tyd van 20,49 sekondes aangeteken. Maswanganyi se tyd van 20,58 sekondes en Jobodwana se tyd van 20,78 sekondes het vir hulle plekke in die halfeindronde verseker.

Die 29-jarige Jobodwana, wat vanjaar aan sy derde Olimpiese Spele deelneem, het derde in sy uitdun geëindig met Jamaika se Rasheed Dwyer wat eerste die wenstreep oorgesteek het gevolg deur Divine Oduduru van Nigerië.

Maswanganyi (20) het ook die halfeindronde van die 100 m gehaal, maar kon nie na die eindronde deurdring nie en is nou gereed vir aksie in die 200 m nadat hy tweede in sy uitdun geëindig het.

Munyai, Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 200 m, het vierde in sy uitdun geëindig.

Jo-Ane van Dyk. (Foto: Anton Geyser/SASPA/SASI)

Intussen kon Jo-Ane van Dyk nie daarin slaag om die eindronde van die vrouespiesgooi te haal nie. Van Dyk moes algeheel in die top-12 geëindig het of minstens 63 m gegooi het om na die eindronde deur te dring. Haar eerste twee pogings van 55,31 m en 55,43 m is opgevolg deur ʼn gooi van 57,69 m. Sy het egter 13de in groep B geëindig en algeheel 24ste.

Hou dié SA’ners Dinsdag dop:

10:00 – Christopher Cosser is in aksie in die sportklim wat vanjaar vir die eerste keer by die Olimpiese Spele aangebied word.

12:15 en 13:40 – Jason van Rooyen en Kyle Blignaut is in aksie in die mansgewigstoot.

12:30 – Clarissa Johnston en Laura Strugnell is in aksie in die sierswem.

12:42 – Antonia Alkana is in aksie in die mans 110 m-hekkies.

13:16 – Lesiba Mashela sal sy staal wys in die 5 000 m.

13:50 – Anaso Jobodwana is in aksie in een van drie 200 m-halfeindrondes.

13:58 – Clarence Munyai in aksie in ʼn ander 200 m-halfeindronde.

14:06 – Shaun Maswanganyi in aksie in die laaste 200 m-halfeindronde.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frank ·

Sjoe, dis nie kompeterende tye nie, maar miskien spaar almal krag vir die half-eind. Ons hou duimvas

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.