Drie sake in hof na AfriForum ingryp

Lizel Visagie (38).

Drie sake wat al vir jare sloer gaan uiteindelik in die hof op Middelburg in Mpumalanga verskyn nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid betrokke geraak het.

Dié eenheid het in al drie sake namens die families van die slagoffers vordering van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) asook die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) versoek.

“In sommige gevalle was daar bewerings dat die dossier verdwyn het en in alle gevalle het sowel die NVG as die SAPD versuim om voldoende terugvoer aan die oorledenes se naasbestaandes te gee,” het adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, gesê.

Die NVG het aangedui dat hy wel vervolging teen Khumbulani Malinga gaan herinstel nadat hy na bewering vir Lizel Visagie in Maart 2019 doodgery het. Dit volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aan die NVG en die SAPD geskryf het dat hulle namens Visagie se naasbestaandes optree en vordering in die saak versoek het.

Malinga moet op 9 Maart in die streekhof op Middelburg verskyn. “Visagie het tydens die voorval haar minderjarige dogter uit die pad van Malinga se motor gestamp terwyl hy glo besig was om van die verkeerspolisie te vlug. Visagie het onderweg na die hospitaal aan haar beserings beswyk,” het Vorster gesê.

Marie Hamman, Visagie se ma, het vroeër aan Maroela Media gesê hoewel sy die besluit om met vervolging voort te gaan verwelkom, niks vir Lizel gaan terugbring nie. “Reg en geregtigheid moet geskied. Hy het alles van ons weggeneem.”

In die saak waar Alet Herbst en Lina Lukele in Oktober 2018 in ’n ongeluk gesterf het wat na bewering deur ’n dronkbestuurder veroorsaak is, het die NVG ook besluit om vervolging in te stel nadat die privaatvervolgingseenheid navraag gedoen het oor waarom geen vervolging tot dusvêr ingestel is nie. Die beskuldigde sal op twee aanklagte van strafbare manslag teregstaan en moet op 16 April in die hof verskyn.

Gerhard Coetzer is in April 2018 in Middelburg doodgeskiet. Volgens Vorster het die NVG versuim om enige stappe te doen totdat AfriForum se privaatvervolgingseenheid namens Coetzer se weduwee vordering versoek het.

“Die aanklaer het die saak daarna na die direkteur van openbare vervolging in Mpumalanga verwys wat gelas het dat ’n geregtelike doodsondersoek na die dood van Coetzer gedoen moet word. Die landdros sal tydens die geregtelike doodsondersoek onder meer ’n besluit neem oor of Coetzer se dood veroorsaak is deur ’n misdaad wat deur ’n ander persoon gepleeg is. Daar bestaan getuienis in hierdie saak dat Coetzer nie tydens ’n rooftog nie, maar wel deur ’n persoon bekend aan die oorledene geskiet is.”

AfriForum het die NVG se besluit verwelkom om wel in elkeen van die bogenoemde gevalle op te tree aangesien die slagoffers se naasbestaandes geregtigheid verdien. “Dit is egter betreurenswaardig dat die families só lank moes wag voordat enige vordering gemaak is. Die noodsaaklikheid van die druk wat die privaatvervolgingseenheid uitoefen sodat prima facie-sake soos hierdie wel die nodige aandag kry, word weer eens in al drie gevalle beklemtoon,” het Vorster gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Wielspore ·

AfriForum doen goeie werk en sorg dat geregtigheid geskied, ondersteun die instansie, sluit by hulle aan. Dieselfde geld vir Solidariteit, as jy nog deel is van die arbeidsmag, sluit sommer hier ook aan vir bykomende ondersteuning in jou beroep.

Casper ·

Die vraag is net hoekom daar nooit opgetreë is deur die NVG nie.

Heinrich ·

Is daar nie iemand teen die NVG kan optree vir hulle slapheid nie?

Abie ·

Abie antwoord Alet.
Wat het jou kommentaar met die berig te doen?

BoepensVark ·

Net ‘n vragie, hoekom het Afriforum nog nie vir Zuma vervolg vir sy betrokkenheid in die Schabir Shaik saak nie, daar was duidelike bewyse dat hy ook skuldig was?

Zombie ·

Sekerlik omdat ń Boepensvark nie ń lid is en ruim bydra tot hulle fondse nie?

BoepensVark ·

Ek was, maar omdat my saak nie groot opslae sou gemaak het nie was daar niks aandag daaraan gegee nie, en dit is die rede hoekom ek nie meer aan hulle behoort nie. Al die sake is polities gemotiveerd en die instansies wil nie op tone trap nie.

Deon ·

Ek het by een van ons petro chemiese reuse gewerk en elke keer as daar n dissiplinere ondersoek teen n werker was, dan was solidariteit in sy volle glorie daar en ja en amen net, geen support vir die werker nie.. Ek het persoonlike ondervinding daarvan.

Stof ·

As ek die arrikel reg lees, het Lizel self voor die voertuig ingespring? Is die dan ook die voertuigbestuurder se fout?

Pieter ·

Stof, is jy ernstig? As sy nie haar dogter weggestamp het nie was albei dood. Sy was reeds in die voertuig se pad. Waar het jy gelees dat sy voor die voertuig ingespring het?
Soms moet mens dink voor jy begin tik.

Kobus ·

Ek weet nie hoe lees jy die artikel nie , maar ek lees sy het haar dogter uit die pad uit gestamp om haar lewe te red.Nerens staan dit dat sy het in die pad ingespring nie.

jzjz05 ·

Stof Lees weer die berig en kyk hoekom sy voor die voertuig beland het en Vir wie die bestuurder gevlug het.

Raakvatter ·

Ai tog, die ou het van die verkeerspolisie gevlug. So ek glo hy het nie stadig gery, by stiopstrate gestop en links en regs gekyk nie. En ek vermoed hy het roekeloos gejaag.

Zombie ·

Jou redeneringsvermoë is nie eens stof tot nadenke werd nie.

Sarel ·

Soos ek dit sien die NVG stel.vervolging in en verloor sask met opset. Onthou Dudzane Xuma

Pieter ·

useless anc en SOE’s en sommer alles wat hulle beheer. As alles in privaat hoedanigheid kan gaan sal alles weer beter raak- O ja dan kan hulle nie meer plunder en slap le nie.

quartus ·

Tragies dat buitstanders eers moet ingryp voordat die vervolgingsgesag/ polisie hulle werk doen

jzjz05 ·

Hoekom moet daar eers gedreig word voor daar reaksie is,Dankie aan AFRIFORUM vir hul optreede sonder hulle sal al die diskiminasie in die vergeetlikheid verloore gaan

Mariana ·

En hoeveel ander sake word nie aandag aan gegee nie. Of is dit net sekere sake wat aandag kry. Ek hoop hierdie naasbestaandes kry uitsluitsel oor die sake en dankie aan Afriforum vir hulle werk. Dink sonder hulle hulp sou die mense se dood net so bly hang het en hul mense sou nooit kon aangaan met hul lewens nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.