Drie senior polisiebeamptes se afdanking omgekeer

ʼn Groot groep mense het vroeër die week in Port Elizabeth ter ondersteuning van die beamptes opgeruk. (Foto: DA)

Drie senior polisiebeamptes in die Oos-Kaap se afdanking is ter syde gestel te midde van erge druk, maar hulle is steeds vir twee maande sonder salaris geskors.

Die afdanking van die bevelvoerder van die Humewood-polisiestasie, brig. Leonie Bentley, die bevelvoerder van die Gelvandale-polisiestasie, brig. Lawrence Soekoe, asook dié van brig. Ronald Koll het daartoe gelei dat ʼn groot groep mense vroeër die week in Port Elizabeth ter ondersteuning van die beamptes opgeruk het.

Marshall von Buchenroder, ʼn DA-lid van die provinsiale wetgewer, en Bobby Stevenson, die DA se Oos-Kaapse leier, was deel van die groep wat na die Mountweg-polisiestasie opgeruk het en waar ʼn memorandum aan die polisiebestuur oorhandig is.

Die drie se afdanking spruit glo uit ʼn vergadering waartydens hulle beswaar gemaak het teen die aanstelling van brig. Thandiswa Kupiso as bevelvoerder van die Mountweg-groepering. Die beswaar is aangeteken ná ʼn ooreenkoms tussen die polisie en die polisievakbonde Popcru en Sapu dat posisies soos dié van groepbevelvoerders afgeskaf word. ʼn Hofbevel verbied ook sulke aanstellings.

Die vergadering het glo gemoedere opgejaag en Bentley, Soekoe en Koll het gevra om verskoon te word. Volgens die DA is daar bewyse, waaronder ʼn notule en ʼn opname van die vergadering, wat wys dat dié versoek toegestaan is.

‘n Memorandum is aan die polisiebestuur oorhandig. (Foto: DA)

Altesaam ses senior beamptes het glo verklarings afgelê waarin hulle hul by Kupiso skaar, teenstrydig met die notules en die opname.

Kupiso, die mees junior brigadier onder die vier, is intussen aangewys as waarnemende bevelvoerder van die Nelson Mandelabaai-distrik.

Die drie is ontslaan op aanklagte van ongehoorsaamheid omdat hulle glo sonder toestemming die vergadering verlaat het.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het te midde van die druk oor die drie se afdanking besluit hulle kan hul werk behou.

Von Buchenroder het dié besluit verwelkom, maar gesê dit is onaanvaarbaar dat hulle steeds vir twee maande sonder salaris geskors is.

“Dit is eenvoudig onaanvaarbaar, aangesien getuienis daarop dui dat die aanklagte teen hulle geen meriete het nie.”

Die DA het geëis dat die drie beamptes onmiddellik hul pligte mag hervat en dat die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek moet instel na die omstandighede wat gelei het tot die tugsake teen die drie brigadiers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johan ·

Wat n grap die korruptes bly en word dan as beloning sommer ook bevorder, maar waag om n standpunt inteneem dan is jy weg.

Aikie ·

I…….. Rest my case. Daar is tot openlike korrupsie binne die geledere van die polisie. Ek vrees vir Suid Afrika.

Grassie ·

Ek weet nie of die ANC die polisiewet verander het nie maar dit het bepaal dat ‘n polisiebeampte nie sommer net afgedank kan word nie. As daar rede is om te glo dat een van hulle onbevoeg is moet ‘n behoorlik saamgestelde geskiktheidsraad gehou word, wat min of meer soos ‘n gewone hofsaak bedryf moet word. Die polisiebeampte mag homself daar verdedig en selfs ‘n regsverteenwoordiger gebruik. Maar die ANC steur hulle mos nie meer aan wetsbepalings nie. Ek sien ook dat hul geskors is sonder betaling maar ou Eish ontvang volle salaris. Diskriminasie?

Tanniepetoors ·

Ja, ‘n polisiebeampte mag nie sommer sonder salaris geskors word nie, veral nie wanneer daar nie kriminele klagte ter sprake is nie. Dit is absolute twak, intimidasie, en viktimisasie, Hier kom nog groot eise teen die SAPD.

koos10 ·

Grassie, jy is reg en dit is nou die disiplinêre verhoor. Die voorsitter, aanklaer en ondersoeker word egter intern aangestel, wat beteken die proses kan “bestuur” word. Die skorsing sonder vergoeding is hulle “straf”.

Jaco ·

Hoe word ‘n WIT mens in die SAPD ‘n brigadier EN ‘n bevelvoerder van ‘n polisiestasie? Die ras pla my nie, maar ons weet mos nou almal daars regstellende aksie en BEE in SA. As jy wit is, moenie sulke bevordering aanvaar nie. Die valkoë wat jou dam dophou, is net te veel. Uiteindelik word jy afgedank oor relatief klein of min foute wat jy gemaak het. Bly eerder net ‘n gewone werker. Ek weet die salaris is minder, maar die werkstres en valkoë is óók minder en die werkwekuriteit is meer stabiel.

Thom ·

Jy vra hoe word ‘n WIT mens ens ens ___ die antwoord is voor die hand liggend ___ op meriete . Gaan spreek iemand ; jou rassisme verwoes jou eie lewe .

Tiptol ·

Lees sy opmerking weer. Hy gee raad aan die wittes om hul werk te behou.

Jaco ·

Ons weet tog almal dat meriete nie in SA tel nie. NET die “regte” velkleur tel. Dié hoë bevelvoerderende range vir wit mense is dus uiters vreemd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.