Drie seuns verdrink in waterpoel in park

Die waterpoel in Refentste (Stinkwater) in die noordweste van die stad waarin die seuns verdrink het. (Foto: Tshwane-nooddienste)

Die Tshwane-nooddienste het ʼn beroep op inwoners gedoen om nie in ʼn poel opgedamde water in Refentse (voorheen Stinkwater) in die noordweste van die stad te swem nie, nadat drie jong kinders Woensdagmiddag daar verdrink het.

Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het gesê lede van die gemeenskap het reeds twee van die kinders se liggame uit die water gehaal toe die nooddienste daar aangekom het.

Nooddienswerkers het ʼn derde liggaam in die water gevind nadat ʼn gesin gesê het een van hul kinders word ook vermis.

Die seuns was tussen agt en nege jaar oud.

Die nooddienste het inwoners gevra om nie in die poel te swem nie, omdat dit ʼn veiligheid- en gesondheidsrisiko inhou.

Die departement het ook sy medelye met die families van die jong slagoffers betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae