Drie skuldig aan Corrie Sanders se moord

Corrie Sanders

Corrie Sanders

Drie Zimbabwiërs is Dinsdag skuldig bevind aan die moord op die voormalige swaargewigbokskampioen Corrie Sanders tydens ʼn gewapende roof.

Regter Ferdi Preller het Paida Fish (21), Chris Moyo (28) en Samuel Mabena (29) in die Pretoriase hooggeregshof skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede, en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Sanders (46) is op 22 September 2012 doodgeskiet tydens ʼn gewapende roof by die Thatch Haven Country Lodge buite Brits in Noordwes. Hy het sy broerskind se 21ste verjaarsdagpartytjie bygewoon. Sanders is die volgende dag in die Kalafong-hospitaal oorlede.

Hy het naby die ingang met sy dogter Marinique en ʼn neef staan en gesels toe drie gewapende mans die gebou bestorm en lukraak begin skiet het. Hy is getref toe hy voor sy dogter inbeweeg het om haar te beskerm. Hy het reeds skietwonde in sy arm en maag opgedoen toe hy haar na die grond toe getrek en gesê het sy moet maak of sy dood is.

Die diewe het die gaste gedwing om op die grond te lê en het hul persoonlike besittings soos handsakke, selfone en kontant geëis.

Twee van die gaste het Fish en Moyo tydens ʼn uitkenningsparade geïdentifiseer.

Die drie mans is ʼn paar dae later in Oukasie informele nedersetting naby Brits aangekeer nadat die polisie ʼn wenk ontvang het. Volgens die polisie se bewyse het Fish ʼn handsak en een van die gaste se Range Rover-sleutels by hom gehad. Sy meisie het ʼn selfoon, wat sy in ʼn kind se doeksak opgespoor het, aan die polisie oorhandig.

Mabena is met ʼn bruin beursie en R500 van een van die gaste in sy sak betrap. Hy het ʼn gegraveerde horlosie van een van die gaste gedra. Hy het die horlosie met ʼn rekkie om sy arm vasgemaak.

ʼn Selfoonkenner van die polisie het getuig dat die simkaart van “ʼn lelike klein Nokia-selfoontjie” wat in Fish se besit gevind is, vroeër gebruik is in ʼn selfoon wat aan Sanders se ma Alida behoort het. Die simkaart is 24 uur ná die rooftog in die Nokia gebruik. Dieselfde simkaart is 45 minute na die rooftog ook in ʼn ander gas se selfoon gebruik.

Die verdagtes het almal onskuldig gepleit en het staat gemaak op alibi’s, maar dit kon nie gestaaf word deur enige geloofwaardige bewyse nie.

Preller het gesê nie een van die mans kon ʼn redelike verduideliking verskaf vir die items wat in hul besit gevind is nie, en hul weergawes is eenvoudig onwaar.

Fish het ter versagting na die uitspraak gesê hy is nie ʼn moordenaar nie.

Die staatsaanklaer het gesê sy gedrag het die moontlikheid om konflik te skep tussen Suid-Afrikaners en uitlanders. “Jy het net pyn en lyding na Suid-Afrikaanse families gebring,” het die staatsaanklaer gesê.

Sanders se ma Alida het gehuil nadat die uitspraak gelewer is. Sy het die staatsaanklaers en polisieondersoekbeamptes omhels.

Sanders se broer Michael het gesê die familie is steeds baie emosioneel, veral Corrie se twee jong kinders en hul ma. Hy het gesê dit sal nog lank duur voordat hulle die drie moordenaars kan vergewe.

Sanders het 46 keer in sy professionele loopbaan in die bokskryt geklim. Hy het slegs vier keer verloor en 31 keer gewen deur ʼn uitklophou. Hy het die WBO-swaargewigtitel in Maart 2003 in Hannover, Duitsland ingepalm nadat hy Wladimir Klitsckho van Oekraïne in die tweede ronde met ʼn uitklophou oorwin het.

Die mans word Woensdag gevonnis.

Lees alle vorige berigte oor Corrie Sanders op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Manie ·

Dit wil voorkom asof ons buurlande se vlugtelinge meesal betrokke is by moord en ander Misdade. Die instromings beheer word duidelik nie toegepas nie

ladybird ·

Manie, die grensposte moet gesluit word, dan sal almal sien hoe misdaad drasties verminder!

Gerhard JvR ·

Hy kon nie 2013 die titel wen nie, hy is in 2012 oorlede. Dit moet seker 2003 wees.

Sune van Heerden ·

Dankie Gerhard, ons het die berig gewysig. Dit is inderdaad 2003.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

david ras ·

Darem vreemd hoe die pers–veral die Afrikaanse pers tekere gegaan het oor die saak van ‘n wereldklas sportman Oscar Pistorius wat uiteindelik skuldig bevind is aan manslag. Dit het duidelik hier gegaan oor sy roem as sportheld
Maar oor die moord op Corrie Sanders wat ook ‘n sportheld was, en immers die groot titel in die bokswereld, wereld swaargewig kampioen verower het—oor Corrie was daar bitter min geskryf.
En die mense weet te vertel hulle bied “gebalanseerde nuus” aan !

Theresa ·

Ha ha – Sien my kommentaar is nie geplaas nie……………..

Drieks ·

Maroela, sit Theresa se kommentaar op asseblief. Niks kan meer as te erg gesien word in RSA nie.

Dave ·

Jy’t die land aan die wonder oor wat jy geskryf het, Theresa. In Swart Suid Afrika is dit nie moeilik om ‘polities-inkorrekte’ stellings te maak. Inderwaarheid is die teendeel moeiliker. En ek besef dat die Sunè’s en ander redaksielede diplomate van die hoogste gehalte moet wees. Sê dit weer Theresa, met die nodige aanpassings. Ons sal weet wat jy bedoel :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.