Drie skuldig aan moord op Karl Reich

Karl Reich (Foto: Facebook)

Drie mans wat vroeër aangekeer is in verband met die ontvoering van en moord op die 82-jarige Karl Reich is Maandag in die Virginia-landdroshof in die Vrystaat skuldig bevind aan moord en roof.

Mojalefa Tseki (30) en Thanki Dickson Motseki (29) is op 14 Junie 2019 in hegtenis geneem, enkele weke nadat die Valke die ondersoek na Reich se moord oorgeneem het.

Een van die mans het daarna die plek waar hulle Reich se liggaam gelaat het, aan die ondersoekspan uitgewys.

Die derde beskuldigde, Ernest Pule Chambisso (36), is sowat twee maande daarna aangekeer nadat hy glo ʼn taxibestuurder probeer kaap en die bestuurder geskiet het. Hy is ná sy inhegtenisneming met die moord op Reich verbind.

Maroela Media het vroeër berig Reich het op 24 September 2018 spoorloos by sy huis op Welkom verdwyn. Bure het destyds ondersoek ingestel nadat sy motorhek oopgestaan het. Twee van sy motors is ook op beeldmateriaal van veiligheidskameras by ʼn vulstasie naby Reich se huis opgemerk, waarna sy familie hom as vermis aangemeld het.

Reich is verwurg en sy liggaam is in die kattebak van een van sy voertuie na Pretoria geneem en naby Fonteinedal in ʼn stormwatersloot op die N14 gelaat.

Die staat het Reich in ʼn armmansgraf begrawe nadat hy aanvanklik nie geïdentifiseer kon word nie. Sy oorskot is later aan sy familie oorhandig.

Vonnisverrigtinge sal na verwagting Donderdag begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

isabelle ·

skokkend ergste is die skuldiges is so jonk en die slagoffer n bejaarde :(

Flower Girl ·

Dankie dat hulle gekry is alhoewel dit nie die Oom gaan terug bring nie. Gooi die sleutels weg.

Anoniem ·

En nog steeds doen die Regering absoluut niks om hierdie afgryslike moorde te stop nie!!!

RB ·

Hulle sal ook nie want hulle het die voorbeeld gestel.
Soveel weerlose mense waaronder talle vroue en kinders is gedurende die sogenaamde ‘struggle’ vermoor.
Hoe stop jy jou volgelinge as jou eie hande deurweek is met onskuldige bloed?

Althes ·

Wanneer so ñ moord gepleeg word, sal die skuldiges weer moor. Sluit permanent toe

Kathleen ·

verskriklik erg ! Kan jy glo hulle smyt hom soos ‘n nikswerd in ‘n stormwatersloot , agge nee man , dit is tyd !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.