Drie skuldig wat bank uit R500 miljoen wou swendel

(Argieffoto)

Drie mans wat Absa uit meer as R500 miljoen probeer bedrieg het, is in die Mokopane-streekhof in Limpopo skuldig bevind.

Goci Nwabisa (31), Tshepo Daniel Sehlapelo (29) en Lifty Nkabe Makalela (43) se borgtog is ook opgeskort nadat hulle Donderdag op onder meer bedrogaanklagte skuldig bevind is, het kapt. Matimba Maluleka, woordvoerder van die Valke, gesê.

Nwabisa, Sehlapelo en Aaron Madanda (42) het ʼn konsultant van Absa in Burgersfort vroeër genader en voorgegee dat hul ondertekenaars van die Royal Bafokeng-trustfonds is.

Hulle het met vervalste identiteitsdokumente probeer om ʼn nuwe bankrekening te open waarin hulle geld uit die trustfonds wou oorbetaal. Die bankamptenaar het snuf in die neus gekry en die voorval aangemeld. Nwabisa, Sehlapelo en Madanda is dadelik in hegtenis geneem.

Volgens die polisie het die ondersoek later gewys Makalela is die vermeende baasbrein. Hy is later by sy huis in Alexandra, Johannesburg, in hegtenis geneem.

Nwabisa, Sehlapelo en Makalela is ná verskeie verskynings in die Praktiseer-landdroshof op borgtog vrygelaat. Madanda het intussen reeds tronkstraf begin uitdien vir ʼn soortgelyke maar onverwante bedrogklag waaraan hy skuldig bevind is.

Maluleka het gesê Nwabisa, Sehlapelo en Makalela verskyn weer op 20 Augustus in die hof wanneer hulle na verwagting weer om borgtog sal aansoek doen. Hulle word op 28 Augustus gevonnis.

Madanda se afsonderlike verhoor op die aanklagte teen hom begin op 18 Augustus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Blomme ·

Praat van uitgeslape, gewetenlose skelms. Gooi hulle in die tronk en gooi die sleutel in die oseaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.