Drie spoedig gevonnis ná wrede plaasmoord

Argieffoto

Drie moordenaars is spoedig tronkstraf opgelê ná ʼn wrede plaasaanval verlede maand waartydens ʼn 69-jarige vrou op haar plaas vermoor is.

Kol. Thembeka Mbhele, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het gesê Michael Smangaliso Mayela (23), Nkosinathi Phendu Ngcobo (20) en Odwa Maningi Zida (21), is Donderdag in die Durban-streekhof skuldig bevind en gevonnis in verband met die plaasaanval in die Tongaat-omgewing.

Maroela Media het vroeër berig die aanval het op 19 April op die plaas Spioenkop in die Umhlali-patrolleringsgebied gebeur. Die slagoffer se 77-jarige man het omstreeks 21:00 by die huis gekom en uit die voertuig geklim om die hek oop te maak.

Die drie aanvallers het hom oorval, in die huis ingedwing en die deur gesluit. Hulle het sy hande en bene vasgebind en hom op die vloer neergegooi. Die aanvallers het die egpaar erg aangerand. Hulle het ook die vrou se hande agter haar rug vasgebind en haar mond toegebind. Hulle het haar daarna vir dood in die slaapkamer agtergelaat.

Volgens die polisie het die aanvallers daarna die huis geplunder voordat hulle op die vlug geslaan het. ʼn Haelgeweer is van die items wat gesteel is.

Omstreeks 05:00 kon die man daarin slaag om regop te kom met sy hande steeds vasgebind, en het hy om hulp geroep. ʼn Werker het hom gehoor en dadelik hulp ontbied. ʼn Oudpolisieman kon die deur oopbreek, die man losmaak en het met hom na ʼn hospitaal gehaas. Die man se vrou was egter reeds dood.

Die oorledene is intussen as Vitathapushanam Govender geïdentifiseer. Govender se man is ʼn suikerrietboer.

Die polisie het onverpoos gewerk en die beskuldigdes vroeër vandeesmaand in die Oos-Kaap aangekeer waar hulle geskuil het. Hulle is in hegtenis geneem en die gesteelde items is in hul besit gevind.

Die drie het tereggestaan op aanklagte van moord, waarvoor hul 25 jaar tronkstraf opgelê is, en twee aanklagte van roof, waarvoor hulle 10 jaar op elke aanklag tronkstraf opgelê is. Hulle is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van poging tot moord en drie jaar vir die onwettige besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

GM ·

Watse justice? Daar word vir die moordenaars gesorg deur die belastingbetaler terwyl die man moet agterbly en sien en kom klaar. Alleen op sy ou dag. Terwyl hy sekerlik sy hele lewe om gewerk het en verdien het om sy laaste paar jare vreedsaam te spandeer, met sy vrou aan sy sy. Maar nou ja, gelukkig is die moordenaars gevang. Vraag is net, hoe lank gaan hul in die tronk bly?

Tokkie ·

Ten minste sal die misdadigers uit die samelewing verwyder word – hulle sou weer toegeslaan het op iemand anders op n ander plaas

smurfie ·

Hulle beskou hulself mos as slagoffers, het jy nie geweet nie? Dis mos hoekom hulle dink hulle kan doen net wat hulle wil.

Derick ·

Die tronke is 37% oorvol. Hoe lank voor hulle nie ontsnap om maar net weer te roof en te moor nie. En jou en my belastinggeld sorg dat die kriminele elke aand ‘n dak oor hul kop en kos in hul maag het. Totaal en al ‘n siek toedrag van sake sonder ‘n teken van verandering.

Sp ·

Ek is baie bly dat geregtigheid geskied het. Ai nou moet ons vir die moordenaars sorg…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.