Drie mense wat in twee verskillende voertuie gereis het, het Saterdaagaand slegs matige beserings in ʼn gru-botsing tussen twee motors in Benoni aan die Oos-Rand opgedoen.
Werner Vermaak, ER24-woordvoerder, sê die botsing het omstreeks 23:00 in Birchlaan in dié dorp plaasgevind.
Volgens Vermaak is een van die motors weens die trefkrag van die botsing teen ʼn boom vasgeslinger. Die vrouebestuurder van die voertuig wat teen die boom vasgeslinger was, is in die motor vasgekeer.
“Die plaaslike brandweerdienste is na die toneel ontbied en het swaar toerusting gebruik om haar uit die wrak te bevry. Weens die skade aan die motor het die proses lank geduur. Nadat sy uit die motor bevry is, het paramedici haar ondersoek en bevind dat sy matige tot ernstige beserings opgedoen het,” sê hy.
Die twee insittendes van die ander motor het volgens Vermaak geringe tot matige beserings opgedoen. Die vrou is na die Tambo Memorial-hospitaal vervoer en die twee ander beseerdes na die Tembisa-hospitaal.
Plaaslike owerhede het ʼn ondersoek van stapel gestuur.
Was die ongeluk 11h00 vanoggend?. Is Benoni altyd so donker in die dag, of was dit moontlik Saterdag 23h00 gewees?
Dagsê Huh
Dankie vir jou kommentaar! Daar was inderdaad ʼn feitefout in die oorspronklike verslag wat ons nié opgemerk het nie.
Ons vra om verskoning vir die oorsig – die berig is gewysig.
Groetnis
Cyril
Nms Maroela Media
Dis vreeslik