Drie stappers breek bene toe rots val

(Foto verskaf deur Brent Russel en Dwayne Evans)

Drie stappers het gebreekte bene opgedoen toe ʼn rots teen ʼn berg in die klowe bo Banhoek buite Stellenbosch afgerol het.

Die groep van sewe plaaslike stappers het Saterdagaand in die berge spandeer en het Sondag via Volstruiskloof teruggekeer. Die groep het geabseil, gespring en deur die diep ravyn geklouter.

Johann Marais, woordvoerder van Wildernis-soek-en-reddingspan (WSAR), sê die groep stappers het Sondagmiddag stilgehou vir middagete en ʼn groot trop bobbejane bo hulle opgemerk. “Lede van die groep het later gesê die trop het opruierig voorgekom, maar geïnteresseerd in die groep mense ver onder hulle. Die groep was nie besorg oor die trop nie en het verder teen die kloof afgeklouter.”

Twee lede van die groep het ʼn 55 m-abseil van ʼn poel in die middel van ʼn waterval voltooi toe ʼn boulder, sowat 60 kg, die rotslysie getref het waar die oorblywende vyf stappers gestaan het.

“Die rots het met die impak in stukke gebreek en skerp stukke ‘skrapnel’ het horisontaal deur die lug getrek. Drie van die stappers is deur die dodelike stukke rots getref. Hulle het bene gebreek en een het ʼn oop wond opgedoen.”

Nog ʼn stapper is deur ʼn stuk rots getref en is op ʼn rif omgestamp, maar sy veiligheidstou aan sy harnas het verhoed dat hy val.

“Nog klippe het van bo geval. Die stappers die rotse is vermoedelik losgewikkel deur die trop bobbejane.”

Die groep het bymekaar gebly en die beseerdes gekalmeer. Hulle het hulle met slaapsakke warm gehou en skuiling gesoek teen die vallende rotse.

“Ondanks beperkte selfoonopvangs kon een van die stappers ʼn noodoproep maak. Die Wes-Kaapse departement van gesondheid se nooddienshelikopter is ontplooi met ʼn span van WSAR aan boord.”

Die pasiënt, met die ernstigste beserings, is op ʼn draagbaar geplaas en na ʼn nabygeleë landingsone geneem. Die oorblywende twee pasiënte is met harnasse na veiligheid gebring. Al drie is per ambulans na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Die reddingspan het op bystand gebly terwyl die oorblywende vier stappers teruggekeer het.

Die twee stappers, wat nie enige beserings opgedoen het nie, is deur die reddingspan geloof “dat hulle kalm gebly het en ʼn wonderlike taak verrig het om die beseerde persone kalm te hou en na hulle om te sien”.

Een van die stappers het aan WSAR gesê: “Dit is al my derde keer in dié kloof en die eerste keer dat ek bobbejane daar bo sien of hoor. Ek dink nie die bobbejane het aggressief opgetree nie. Die gebied is vol los rotse. Die rotse het waarskynlik net losgewikkel toe die bobbejane ons op die rand agtervolg het.”

Die helikopterbemanning is ook geloof vir hul vaardige vlieëry.

Marais sê WSAR wens die pasiënte ʼn spoedige herstel toe.

“Ons vra dat alle wildernis-entoesiaste sal help om die noodnommer te deel: 021 937 0300. Deel gerus ook ons plasings oor die #IAmWildernessSafe-veldtog.”

  • WSAR is ʼn netwerk van regeringsagentskappe en siviele organisasies wat saamwerk in soek-en-redding.

(Foto’s verskaf deur Brent Russel en Dwayne Evans)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Astrain ·

Het so ruk terug kloofing gedoen en ook seergekry bo in berg…nie erg genoeg vir casavac nie maar nietemin nogal pynlik. Ek moes klaarmaak…dis die realiteit wanneer jy in ons pragtige berge gaan klim en klouter!

Sê maar net ·

Dankie Here, daai oproep het deurgegaan. Ek wens julle almal ‘n spoedige herstel toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.