Drie sterf, 4 beseer in Gauteng-botsing

Foto: ER24

Drie mans is Sondag dood en vier ander beseer nadat drie voertuie ongeveer 9 km buite Carletonville in Gauteng gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is vroeg vanoggend na die toneel ontbied waar drie voertuie verspreid oor die toneel gestaan het. Volgens Meiring het vier mans reeds uit die voertuie geklim, terwyl nog drie mans steeds binne die voertuie was. “By nadere ondersoek het paramedici gesien al drie mans wat binne die voertuie gelê het, het reeds aan hul veelvuldige beserings beswyk,” het Meiring gesê.

Hy het gesê die ander vier mans se beserings het van kritiek tot matig gewissel. “Die kritiek beseerde mans is met ʼn privaat mediese helikopter na ʼn nabygeleë hospitaal geneem, terwyl die ander twee pasiënte per ambulans na ʼn hospitaal vervoer is.”

Meiring het gesê die oorsaak van die botsing is nie bekend nie, maar word deur die polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Piet Pompies ·

Ons het Sondag oggend omtrent 02h00 vertrek uit Middelburg MPA Oos op die N4 na Nelspruit. Dit was verbasend om te sien watse gedoentes se wiele draai daardie tyd van die nag. Minnibus Taxi’s en Bakkies met oorlaaide sleepwaens, wrakke wat beperk is tot een hooflig. Met ons aankoms by Machado tol hek was daar ‘n padblokade wat beman was deur die SAPS en verkeersdepartement en hier van die daardie wiele ophou draai, sommer baie wiele. Puik werk, hou so aan.

Johann Marx ·

Meeste ongelukke soos hierdie gebeur omdat Suid Afrikaners NIE MEER WEET wat ‘n soliede sperstreep beteken nie. In die ou dae is ‘n bestuurder gevonnis vir elke wiel wat oor ‘n soliede sperstreep gegaan het…..in die nuwe Suid Afrika is ‘n sperstreep iets wat die middel van die pad aandui….

Cherokee ·

Dit lyk vir my (wanneer ek TV kyk) asof dit in Amerika gebruik word om bestuurders daarop te laat loop en hul sodoende vir dronkbestuur te toets. Blykbaar is dìt die doel daarvoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.