[OPVOLG] Die Kaapse verkeersafdeling het kort voor 11:00 Vrydagoggend laat weet dat die ongelukstoneel opgeruim en die pad heropen is.
Die verkeersopeenhopings in die omgewing van Liesbeekparkweg en die N2 in die Kaap was Vrydagoggend selfs erger as gewoonlik nadat die afrit van die nasionale pad gesluit moes word weens ʼn noodlottige botsing.
Maxine Bezuidenhout, woordvoerder van die Kaapstadse verkeersafdeling, sê die bestuurder van ʼn sedan het blykbaar vroegoggend in spitsverkeer te vinnig by die afrit afgery en beheer oor sy voertuig verloor. Hy en twee passasiers, ʼn man en ʼn vrou, is op slag dood toe die motor teen een van die pilare onder die N2 gebots het.
Bezuidenhout het kort voor 09:00 gesê dit sal nog “baie lank” duur voor die afrit heropen kan word aangesien die slagoffers nog in die wrak vasgekeer was en dit eers ondersoek moes word voor dit verwyder sou word.
“Daar was ernstige verkeersopeenhopings in die omgewing toe ons beamptes die verkeer moes herlei na Hoofweg, Observatory, en ander paaie in die omgewing,” het Bezuidenhout aan Maroela Media gesê.
Sy kon nie voorspel wanneer verkeer van die N2 weer die afrit na Liesbeekparkweg sou kon gebruik nie.
Daar is maar min van die betonpilare met beskermrelings in die land. Ek wonder hoeveel is al dood en ernstig beseer as gevolg hiervan. Sou daar relings wees dan meng dit grotendeels in met ‘koelteboomparkering’ en u weet wat ek bedoel . . .