Drie sterf in botsings aan Oos-Rand  

Die ongeluk in Springs. Foto: Netcare 911

Die ongeluk in Springs. Foto: Netcare 911

Drie mense is Woensdag dood in drie afsonderlike botsings aan die Oos-Rand in Gauteng.

ʼn Botsing in die vroeë oggendure het die lewe van ʼn man geëis nadat ʼn swaarvoertuig en ʼn motor gebots het.

Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die botsing het omstreeks 01:30 in Hewittrylaan in Selectionpark plaasgevind. Die oorsaak van die botsing is nog onbekend.

“Toe paramedici by die toneel aankom, is die 28-jarige bestuurder van die voertuig in ʼn kritieke toestand in die motor se wrak aangetref,” het Steinmann gesê. “Die brandweer moes die man uit die wrak sny, waarna sy toestand vinnig agteruitgegaan het. Daar was niks wat die paramedici verder vir hom kon doen nie en hy is op die toneel dood verklaar.”

Die bestuurder van die vragmotor het matige beserings opgedoen.

In die tweede voorval is ʼn voetganger ook in Springs dood nadat hy omstreeks 03:00 op Witweg naby die N17 in Casseldale raakgery is.

“Die man was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het. Sy liggaam is in die pad aangetref. Die polisie ondersoek die voorval,” het Steinmann gesê.

Die derde ongeluk, waarin ʼn vragmotorbestuurder in sy 40’s gesterf het, het omstreeks 05:00 by die N12/N3-wissellaar in Alberton plaasgevind.

“Die vragmotor wat die man bestuur het, het omgeslaan en ʼn lamppaal getref. Die vragmotor se kajuit het losgeskeur en teen ʼn steilte afgerol. Die bestuurder was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het,” het Steinmann bygevoeg.

Volgens Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het die vragmotor drank vervoer en was die pad met alkohol bedek. “Twee ander voertuie was ook in die botsing betrokke. Die insittendes het glo slegs geringe beserings opgedoen,” het Bodasing gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Onthou ALTYD dat daar dalk nog iemand so ‘laf’ soos jy kan wees om onmoontlike tye op dieselfde pad as jy te wees. Al bestuur jy stoksielleen in die Namibwoestyn, wees paraat. Daar kan dalk nog ‘n stoksielalleen-outjie op dieselfde plek as jy wees. Moet NOOIT mak raak agter ‘n stuurwiel.

CHRISTA ·

As die mense net die BASIESE padreels wil nakom, sal ons ongeluksyfer met 80% afneem. Ek het vanoggend op die Modderfonteinpad vanaf Kempton Park na Edenvale gery. Halfpad kom ek ‘n motor tee wat van links na regs na links na regs bane verwissel sonder om EEN KEER haar flikkerlig te gebruik!!! Hoe lank dink julle sal sy nog op die pad wees?

ladybug ·

Teen die tempo wat mense padreels verontagsaam en soos holligans ry is ek verbaas nie meer mense gaan dood op ons land se paaie nie! Ek kan my verstom aan die mense se maniertjies wanneer hul agter ‘n stuur inklim!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.