Drie sterf in gyselaarsdrama by polisiestasie

Argieffoto: SAPD/Facebook

Argieffoto: SAPD/Facebook

ʼn Ure lange gyselaarsdrama by die Johannesburg Sentraal-polisiestasie het Vrydagaand die lewe van twee polisiebeamptes en ʼn verdagte geëis.

Maroela Media het van ʼn betroubare bron verneem ʼn verdagte is omstreeks 20:00 in verband met die besit van dwelms na die stasie geneem.

Die verdagte het na bewering geweier om deursoek te word, en het ʼn vuurwapen aan hom gehad. ʼn Skermutseling het glo ontstaan omdat hy hom verset het, waarna hy een beampte doodgeskiet. ‘n Ander beampte wat besig was om skuiling te soek is ook noodlottig gewond. Die polisie-taakspan is ontbied. Die verdagte het later sy eie lewe geneem.

Kol. Noxolo Kweza, provinsiale hoof van kommunikasie, het Saterdag aan Maroela Media bevestig dat die 31-jarige verdagte twee beamptes by die polisiestasie doodgeskiet het voor hy sy eie lewe geneem het.

“Die man het geweier om deursoek te word toe hy by die stasie ingeneem is. Hy het ʼn adjudant-offisier (in sy 40’s) en ʼn konstabel (31) doodgeskiet,” het sy gesê.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord, poging tot moord en poging om te ontsnap. Ondersoek word ook ingestel om vas te stel hoe die verdagte daarin geslaag het om ʼn vuurwapen in die stasie in te smokkel.

Die name van die beamptes sal bekend gemaak word sodra hul naasbestaandes van hul dood in kennis gestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jean ·

Ondersoek van moord.?…. En hoe gaan dit die polisie nou help, nou an dat die hoof verdagte homself gedood het?? Miskien beter n ondersoek van nalatigheid van die polisie sodat die gemors vermy kon geword het in die eerste plek..skat dis ok nie eintlik meer nodig nie.

Dave ·

Ag tog Jean, wat jy ‘skat’ is sinneloos. Vir my wat ‘n leek is mbt polisiesake is dit heel verstaanbaar dat die saak ondersoek moet word en afgesluit moet word met ‘n verduideliking van wat, hoe en hoekom dit gebeur het. Volgens jou tipe redenasie hoef sake nie ondersoek te word wanneer mense in polisieaanhouding sterf. Dit is nie so slim as wat dit vir jouself mag klink nie.

Pierre Celliersc ·

Hy’s verdag, en polisie beamptes kan nie saamstaan om hom te ondersoek vir vuurwapens nie?! Weet hulle nie hoe nie?! Seker nie.

hennie ·

Ek glo nie die werklikheid is soos dit op die oog af lyk nie!Ek dink of liewers ek vermoed dat dit nie die ware storie is nie! Iets anders kon tot hierdie tragedie gelei het! Maar nou ja ek het so iets al lankal verwag!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.