Drie sterf in Kaapstad-brande

Argieffoto (pixabay.com)

Drie persone is vroeg Sondagoggend in drie afsonderlike brande dood in informele nedersettings in Kaapstad.

Die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdiens is net ná middernag in kennis gestel van ʼn brand wat by informele strukture in Scottsdene in Kraaifontein uitgebreek het, het woordvoerder Jermaine Carelse gesê.

Vier brandweerwaens, twee watertenkwaens, ʼn reddingsvoertuig en 26 personeellede is ontplooi. “Met hul aankoms by die toneel het die bevelvoerder vier reaksievoertuie weggestuur, omdat hy slegs een watertenkwa sou benodig,” het Carelse verduidelik. “Die brand is vinnig onder beheer gebring en net ná 01:00 geblus. Een man het noodlottige brandwonde opgedoen. Geen ander beserings is aangemeld nie en die oorsaak van die brand is onbekend.”

Die brandweer het ook reageer op ʼn brand in Kosovo- informele nedersetting in Philippi. Drie brandweerwaens, twee watertenkwaens, ʼn reddingsvoertuig en 21 personeellede is ontplooi. “Die brand is net ná 02:00 geblus. ʼn Seun het noodlottige brandwonde opgedoen. Geen ander beserings is aangemeld nie en die oorsaak van die brand is onbekend.”

Om 03:45 is die brandweer weer na Kosovo ontbied waar verskeie informele strukture gebrand het. “Met hul aankoms by die toneel het die bevelvoerder twee bykomende brandweerwaens en nóg ʼn watertenkwa versoek. Altesaam 35 personeellede is ontplooi.” Carelse het bygevoeg die brand is net ná 05:00 geblus. “Een man het noodlottige brandwonde opgedoen. Geen ander beserings is aangemeld nie en die oorsaak van die brand is onbekend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae