Drie mense is dood en ses beseer toe ʼn bakkie Dinsdagmiddag naby Kimberley in die Noord-Kaap trompop met ʼn vragmotor gebots het.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê verskeie nooddienste het omstreeks 17:10 op boodskappe omtrent die gru-botsing op die R64 gereageer. Albei voertuie het erge skade opgedoen en is in die middel van die pad aangetref.
“Twee mans was in die kajuit van die bakkie vasgekeer. Hulle was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het. Hul liggame moes uit die bakkie se wrak gesny word,” het Botha gesê.
Een van die sewe mense wat tydens die botsing in die vragmotor was, het kritieke beserings opgedoen. Twee is ernstig beseer en vier het matige beserings opgedoen.
“Paramedici het die mense op die toneel gestabiliseer en na verskeie hospitale geneem vir verdere behandeling. Ongelukkig het die persoon wat kritiek beseer is met sy aankoms by die hospitaal gesterf.”
Die omstandighede rondom die ongeluk word ondersoek.
Nou weet ek hoe voel ander mense as hul , hul eie mense se wrakke op sosiale media moet aanskou. Dit ruk jou hart uit jou borskas uit. RIV
Dit is nie reg nie .