Drie sterf in Namibië-vliegongeluk

Uwe Herbert. Foto: O&L

Uwe Herbert. Foto: O&L

Die drie mans wat Vrydag in ʼn vliegtuigongeluk in Namibië dood is, was ervare vlieëniers.

Ericsson Nengola, hooflugverkeerbeampte by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe, het aan die Namibian gesê die Cessna 425 Conquest het langs die lughawe in Windhoek neergestort. Die drie oorledenes is intussen geïdentifiseer as Uwe Herbert, Ole Friede en Fritz Alpers.

Volgens Nengola was hulle almal ervare vlieëniers. “Dit is ʼn groot verlies. Hulle is kenners wat al vir jare in ons bedryf werk.”

Edwin Kanguativi, woordvoerder van die Namibiese polisie, het gesê die vliegtuig het Vrydagoggend by die Eros-lughawe opgestyg. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en word ondersoek.

Ole Friede. Foto: Facebook

Ole Friede. Foto: Facebook

Ohlthaver & List (O&L), die groep wat Eros Air besit en waarvan Herbert die hoofvlieënier was, het in ʼn verklaring die voorval bevestig en gesê die drie oorledenes was besig met opleiding. Volgens Sven Thieme, uitvoerende voorsitter van O&L, was Herbert vir 31 jaar by die maatskappy.

“Ek sal Uwe onthou vir sy passie, toewyding, akkuraatheid en professionalisme wat ek ervaar het op die talle vlugte wat ons saam gedoen het. Sy wonderlike gesindheid, warmte en vriendelikheid sal my vir ewig bybly. Ons gedagtes is met Heidi, Uwe se vrou en hul kinders in hierdie moeilike tyd.”

Thieme het ook sy meegevoel uitgespreek met die naasbestaandes van die ander twee oorledenes. “Dit is regtig ʼn hartseer dag in die geskiedenis van die O&L-groep en sekerlik ʼn reuseverlies vir Namibië, om nie eers die impak wat die tragedie op die lewens van die oorledenes se geliefdes gaan hê, te noem nie.”

Fritz Alpers. Foto: Facebook

Fritz Alpers. Foto: Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sonja Preller ·

Ek stem honderd persent saam met Sven se beskrywing oor Uwe se persoonlikheid. Ek het 27 jaar gelede by die Namibia Brouery begin werk en was vier jaar daar. Ai, dit was n groot skok om te hoor van Uwe se heengaan. Dit is ‘n groot verlies vir die O&L Groep en Namibia se Lugvaart. Ons innige meegevoel aan die naasbestaandes.

Sarie 2 ·

Hartseer gebeure…. Ek het nie een van die 3 geken nie; maar volgens die fotos lyk dit asof hulle “plat oppi aarde / sout vd aarde” mense was & dat hul heengaan ‘n bàie groot leemte op verskeie gebiede gaan laat!!! My innige meegevoel aan hul naasbestaandes & vriende…

GES ·

My innige simpatie aan die families en vriende van die drie ontslape here. Dit is nie lekker om op so ‘n manier afskeid van jou geliefdes te neem nie. Ek vertrou dat die Gewer van lewe ook berusting sal gee.

Hendrina Lambert ·

Ai dis tog so hartseer om te hoor van die Drie Ervare vlieèniers. Rus in Vrede en Sterkte aan hul gesinne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.