Drie sterf in skietgeveg met polisie

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Drie vermeende kapers is Saterdagaand in ʼn skietgeveg met polisiebeamptes in die KwaDabeka-gebied in KwaZulu-Natal doodgeskiet.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes was om 20:45 besig met ʼn misdaadvoorkomingsoperasie in KwaDabeka. Die beamptes het in Khululeka-weg gery toe hulle ʼn voertuig met vyf insittendes daarin opgemerk het.

Die polisielede het die voertuig opdrag gegee om stil te hou, maar die insittendes het op die polisie losgebrand. “Die polisie het teruggeskiet en drie van die verdagtes is doodgeskiet. Twee ander verdagtes kon daarin slaag om te voet te vlug,” het Mbhele gesê. Die polisie het op die toneel op drie ongelisensieerde vuurwapens beslag gelê.

Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is na die toneel ontbied, maar het gevind dat die drie mans reeds voor hul aankoms aan hul wonde beswyk het.

“By nadere ondersoek het die polisie vasgestel dat die verdagtes se voertuig vroeër vandeesmaand in Newlands West gekaap is,” het Mbhele gesê. ʼn Saak van poging tot moord word ondersoek.

Die vuurwapens waarop beslag gelê is, sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit in die uitvoer van enige ander misdade gebruik is. Die soektog na die ander twee verdagtes duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frikkie (Nie pienk) ·

Natal polisie speel nie met hulle nie. Haal kort-kort ‘n paar af. Mooi!! Wens ander provinsies wil julle voorbeeld volg.

Mooi soo ·

Dankie polisie, ten minste gaan ons nie vir hul verblyf in die tronk betaal en al die ander voordele wat daarmee gepaard gaan nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.