Drie mense is Maandag in die vroeë oggendure dood nadat hul motor ʼn spantoring langs die N14-snelweg naby Diepsloot in Gauteng getref het.
“ʼn Wit Audi A3 het omstreeks 02:00 die snelweg verlaat en eers teen ʼn boom langs die pad vasgery voor hy die spantoring getref het,” het hoofsupt. Wayne Minnaar, ʼn woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, gesê. “Die ongeluk het voor die R511-afrit in ʼn oostelike rigting plaasgevind.”
Volgens Minnaar het elektriese kabels aan die motor geraak en die motor het aan die brand geslaan.
Nooddienste het aanvanklik slegs twee liggame gevind, en ʼn derde persoon se liggaam is opgespoor nadat dit lig begin word het.
“Een van die liggame was in die uitgebrande motor. Die ander twee is tydens die ongeluk uit die voertuig geslinger.”
Die ongeluk het erge vertragings in die oggend-spitsverkeer veroorsaak en verkeer moes herlei word weens kragkabels wat steeds op die snelweg gelê het.