Drie sterf op N11 naby Loskopdam

(Foto verskaf deur die Mpumalanga departement van gemeenskapsveiligheid)

Drie mense is Saterdagoggend dood op die N11 tussen Middelburg en Groblersdal naby die Loskopdam in Mpumalanga.

Moeti Mmusi, woordvoerder van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, sê ʼn vragmotor en ʼn afleweringsvoertuig was in die ongeluk betrokke. “Nog drie persone het kritieke beserings opgedoen en is na ʼn nabygeleë hospitaal in Middelburg geneem vir dringende behandeling.”

Die drie oorledenes en die beseerde persone het in die ligte afleweringsvoertuig gery. Die bestuurder van die vragmotor is ongedeerd. Ses mense het in die afleweringsvoertuig gery.

“Die vragmotor het van Groblersdal gekom en die afleweringsvoertuig van Doornkop. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie. Uitermatige spoed en roekelose bestuur het vermoedelik tot die ongeluk bygedra.”

ʼn Ondersoek is van stapel gestuur.

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het motoriste gemaan om versigtig te wees op die paaie dié langnaweek. Hy het sy meegevoel betuig met die families van die slagoffers en die pasiënte ʼn spoedige beterskap toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.