Drie sterf, tien beseer toe bakkies bots

Paramedici by die toneel. Foto: Verskaf

Drie mense is dood en tien beseer nadat twee bakkies Dinsdagoggend buite Middelburg in Mpumalanga gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die botsing het omstreeks 07:30 op die R555 sowat 10 km buite die dorp plaasgevind. “Na wat verneem word, het talle mense agter op een van die bakkies gesit toe die ander bakkie van agter teen die voorste een gebots het,” het Meiring gesê.

Volgens Joseph Mabuza, woordvoerder van Pat Ngomane, die LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het ʼn Mitsubishi Colt van agter teen ʼn Nissan 1400 gebots. Die mense is tydens die trefslag uit die bakkies geslinger en het verspreid oor die toneel gelê.

“Een van die bakkies is aan die kant van die pad aangetref en die ander sowat 100 meter verder in die middel van die pad. Drie vroue is op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê.

Twee mense het kritieke beserings opgedoen en een van hulle moes met ʼn helikopter na ʼn nabygeleë hospitaal geneem word. Agt mense het geringe tot matige beserings opgedoen. Hulle is met ambulanse na nabygeleë hospitale geneem vir verdere behandeling.

Die oorsaak van die botsing is onbekend en word ondersoek.

Die pad was vir ʼn geruime tyd vir verkeer gesluit en is omstreeks 11:45 weer oopgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Altie ·

Ons land moes ook lankal die vervoer van mense op oop bakkies en trokke verbied het en swaar boetes instel waar dit gebeur!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.