Drie mense is dood en nog iemand kritiek beseer toe ʼn vragmotor Dinsdagoggend met ʼn bakkie in Meyerweg in Meyerton in die Vaaldriehoek gebots het.
Russel Meiring, ER24-woordvoerder, sê toe hul paramedici en Gautengse nooddienste omstreeks 05:40 op die toneel aankom, het hulle die vragmotor en die bakkie aan die kant van die pad aangetref. Die bakkie is teen die voorkant van die vragmotor verpletter.
By nadere ondersoek het beamptes op twee mans afgekom wat voorin die bakkie vasgevang was, terwyl ʼn derde agterin gekry is. Al drie is blykbaar op slag dood.
Meiring beskryf ʼn vierde man se toestand as kritiek. Hy is op die toneel vir sy beserings behandel en daarna vir dringende behandeling na die Mediclinic Vereeniging gebring.
“Nadere besonderhede van die ongeluk is nog nie bekend nie,” sê Meiring, “maar die plaaslike owerheid was op die toneel om die voorval te ondersoek.”