Drie sterf toe vloedwater motor wegspoel

Argieffoto.

Argieffoto.

Drie mense is dood en een in die waakeenheid van ʼn Limpopo-hospitaal nadat hul motor Dinsdag deur vloedwater meegesleur is.

Lt.kol. Moatshe Ngoape, woordvoerder van die polisie, het gesê die motor is naby die Mokwakwaila-nedersetting, oos van Polokwane, in ʼn kitsvloed vasgevang en van ʼn pad af gespoel. Die bestuurder kon daarin slaag om uit die motor te kom, maar is ernstig beseer toe die water hom teen bome en groot klippe vasgespoel het.

Die ander drie insittendes is in die motor vasgekeer en het verdrink.

Volgens Ngoape is die oorledenes intussen as Refilwe Mashao, Abrahm Mashao en Bontle Mkansi geïdentifiseer. Hulle was almal van Bolobedu en was tussen 28 en 46 jaar oud.

Die bestuurder is in die Kgapane-hospitaal opgeneem. Sy toestand is nie in dié stadium bekend nie.

ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.