Drie sterf tydens skietery in Kimberley se strate

Duncan Vertue (Foto: Duncan Vertue, Facebook)

Duncan Vertue (Foto: Duncan Vertue, Facebook)

Twee polisiebeamptes en ʼn voormalige polisiebeampte is Woensdagmiddag voor talle motoriste in ʼn besige kruising in Kimberley doodgeskiet. Die voorval hou vermoedelik verband met huishoudelike geweld.

Kol. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 17:00 in Bultfonteinweg, waar Long- en Lennoxstraat aansluit, plaasgevind.

Hy het gesê die vermeende skieter en oudpolisieman, Qolani Feni (40) en sy vrou het glo huweliksprobleme gehad. Sy vrou, wat by die polisie se provinsiale kantoor in die stad werk, het ʼn beskermingsbevel teen hom gehad.

“Die man het sy vrou by die polisiekantoor gekonfronteer,” het Ramatseba gesê. Ander polisiebeamptes het tussen beide getree, waarna ʼn jaagtog deur die stad se strate ontstaan het.

“Beamptes het hom by ʼn verkeerslig, ʼn paar blokke van die kantoor voorgekeer, waarna hy op hulle losgebrand het. Die beamptes het teruggeskiet en die verdagte noodlottig getref. Een beampte is op die toneel dood en nog een het in die hospitaal aan sy wonde beswyk. ʼn Ander beampte is na ʼn hospitaal geneem waar hy tans in ʼn ernstige toestand is.”

Ramatseba het die gestorwe beamptes as ao. Duncan Vertue (46) en sers. Gregory Vis (36) geïdentifiseer. Vertue was verbonde aan die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (FCS).

Vertue was ook ʼn afrigter van Hoërskool Diamantveld se o.15 rugbyspan wat Saterdag (11 Maart) teen Affies gaan speel. ‘n Oomblik van stilte sal voor die wedstryd gehou word. “Hy sal onthou word vir die rustige en kalm manier waarmee hy met die spelers gewerk het; ʼn ware ‘gentle giant’,” het die skool in ʼn verklaring gesê.

Die Kimberley-polisie ondersoek twee sake van moord, een van poging tot moord en doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Lt.genl. Khomotso Phahlane het die dood van die twee lede betreur en streng veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jos ·

Rus in vrede manne. Sterkte aan die families, vriende en kollegas.
So hartseer en so onnodig.

Pastoor ·

Ja my home town. Jy loop uit jou huis vanoggend. Jy weet nie of jy vannaand weer huistoe kom nie. Sterkte oom Ronnie en familie

Jan ·

Dis jammer om te hoor en sterkte aan die familie. Maar hoe is dit dan dat so baie polisie manne geskiet word. Ek was lank gelede in die polisie en daardie tyd al het ek gesien dat die manne dink die uniform maak jou immuun. Ek se nie dis wat hier gebeur het nie, maar hoe kry die verdagtes dit reg om drie polisie manne te skiet. As die eerste skoot klap moet die verdagte reeds lê. As polisie man weet jy mos wat jou wapen stans moet wees. Hulle moet mos weet die verdagte was ‘n gewese polisieman, dus gaan jy ekstra versigtig wees. Nie ekstra bang nie, ekstra voorbereid. In sulke omstandighede ry jy met jou wapen op jou skoot. nie in sy holster nie. Dis maklik om as buite staander te praat en veral as jy nie daar was nie, ek weet, maar die syfers maak baie keer net nie sin nie. Dis bly ergter tragies en so onnodig. RIP

linda ·

Dis baie hartseer sterkte aan elke gesin.
klink my hy was dalk baie omgekrap vir sy vrou

m ·

Ai altyd onskuldige mense wat moet sterf omdat mal mense in die strate loop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.