Drie stropers kom hul moses in hof teë

(Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

Drie mans wat die Krugerwildtuin met die uitsluitlike doel binnegegaan het om renosters te stroop, gaan jare lank agter tralies sit.

Walter Hendric Mangane (59), Shangani Mathebula (26) en Emmaunel Mdluli (33) is vandeesweek in die Skukuza-streekhof skuldig bevind en gevonnis.

Die drie swaargewapende mans is in November 2017 die wildtuin binne om renosters te stroop.

Veldwagters het blitsig gereageer nadat hulle geweerskote gehoor het. Hulle het met behulp van ʼn snuffelhond na die stropers begin soek. Terwyl die veldwagters nader gekom het, het hulle gesien hoe die stropers twee renosters doodskiet, sê kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder in Mpumalanga.

Die veldwagters het ook rugsteun van ʼn helikopter ingeroep en die driemanskap is aangekeer.

“Die mans was in besit van ʼn geweer waarvan die reeksnommer afgevyl is, asook ammunisie. Twee renosterhorings was in hul rugsakke versteek.”

Die polisie op Skukuza is oor die voorval ingelig en lede van die Skukuza-eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies het die saak ondersoek.

“Die span het onophoudelik gewerk en die drie mans is aangekla, voor die hof gedaag en gevonnis,” sê Mdhluli.

Mangane is 45 jaar tronkstraf opgelê vir betreding, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ʼn vuurwapen waar dit verbode is, die besit van ʼn vuurwapen met die doel om ʼn misdaad te pleeg, die onwettige besit van ammunisie, die besit van ʼn gevaarlike wapen en drie aanklagte wat met renosterstropery verband hou.

Mdluli is tot 30 jaar tronkstraf vir dieselfde oortredings gevonnis.

Mathebula, oorspronklik van Mosambiek en wat boonop onwettig in die land was, is 30 jaar tronkstraf opgelê. Hy is aan dieselfde aanklagte as sy twee makkers skuldig bevind, asook aan ʼn bykomende aanklag van die oortreding van die Immigrasiewet.

Lt.genl. Semkaleng Manamela, polisiehoof in Mpumalanga, het die veldwagters geloof vir hul samewerking en uitstekende werk, asook die ondersoek- en vervolgingspanne wie se uitstekende werk tot die vonnisse gelei het.

Manamela sê die vonnisse sal hopelik as afskrikmiddel vir ander voornemende stropers dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SomeOne ·

nie een renoster stroper lees in elk geval die nuus nie, hulle hoor dit nie eers nie

Niklaas ·

Die lekker verblyf in die SA tronke is ongelukkig geen afskrik middel vir die stropers, waarvan heelwat uit arm buurlande kom. Dan is daar die verwagte amnestie, net om die draai en Ta keer terug met ‘n spoed om alles weer te hervat.

jou gewete ·

jy bedoel seher die korrektiewe hotelle, tronke is hier nie meer nie

Nico ·

Die howe stel meer belang aan renoster stropery as moord op mense lewens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.