Drie substasies brand in Vanderbijlpark

(Foto: Emfuleni Local Municipality/Facebook)

Drie van Vanderbijlpark se substasies het oor die Paasnaweek aan die brand geraak en ontplof nadat daar glo met die infrastruktuur gepeuter is.

Die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit het Woensdag bevestig dat die Town-, Munic- en Sammons-substasies in drie agtereenvolgende dae buite werking geraak het.

ʼn Aantal verdagtes is intussen in verband met dié voorvalle, asook ander voorvalle waar daar met munisipale infrastruktuur gepeuter is, in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig dat die Town-substasie ontplof het, nadat ʼn groep mans hulle voorgedoen het as werkers van die munisipaliteit en ʼn aantal kabels geknip het. Die substasie het aan die brand geraak net nadat hulle van die toneel af gevlug het.

Byna die helfte van die gebied sit gevolglik sedert verlede naweek sonder krag, terwyl die munisipaliteit skarrel om die nodige onderdele wat by die substasie vervang moet word, te bekom.

Lebo Mofokeng, woordvoerder van die munisipaliteit, sê plaaslike polisiebeamptes, lede van die gemeenskap, buurtwagte en die munisipaliteit se interne ondersoekspan het reeds daarin geslaag om van die verdagtes wat glo betrokke was by die beweerde sabotasie vas te trek.

Die munisipaliteit se ondersoekspan het Dinsdag vier verdagtes, twee mans en twee vroue, aangekeer wat glo ʼn hand in die substasiebrande gehad het. ʼn Veiligheidswag wat ten tyde van die voorval aan diens was, is ook in hegtenis geneem.

In nog ʼn voorval, minute voordat een van die substasies ontplof het, het ʼn Amarok-bakkie die substasie binnegegaan. Die polisie is glo steeds op soek na hierdie verdagtes.

Die polisie het ook vandeesweek toegeslaan op verdagtes wat glo onregmatig met elektriese infrastruktuur gepeuter het.

Die polisie het Maandag in die vroeë oggendure een verdagte in hegtenis geneem nadat ʼn buurtwag beamptes in kennis gestel het van onwettige bedrywighede met betrekking tot kragkabels. Ses ander verdagtes het egter inhegtenisneming vrygespring.

In Duncanville, digby Vanderbijlpark, is ʼn 35-jarige verdagte in hegtenis geneem wat in besit van ʼn 200 m-kabel ter waarde van R100 000 was.

Die uitvoerende burgemeester van Vanderbijlpark, Sipho Radebe, het sy kommer oor die opgeblaasde substasies, wat byna jaarliks gedurende dieselfde tyd gebeur, uitgespreek.

“Weens die erns van die voorvalle sal die munisipaliteit teen die einde van die week ʼn vergadering met ʼn verteenwoordigende belangegroep belê, met die doel om ʼn langtermynoplossing te soek om die munisipale infrastruktuur te beskerm,” sê Radebe.

“Sulke georganiseerde misdadige aktiwiteite sal die nodige aandag geniet wat dit verdien. Ons het geen geduld wanneer dit kom by hierdie soort misdade nie,” het ʼn woordvoerder van die munisipaliteit se interne ondersoekspan gesê.

Wetstoepassingsowerhede is nou beveel om met erns enige wenke oor vermoedelik misdadige bedrywighede rakende die munisipaliteit se kraginfrastruktuur dadelik te ondersoek.

Herstelwerk vorder

Volgens die munisipaliteit is kabelherstelwerk aan die Town-substasie reeds aan die gang. Dit is egter steeds nie duidelik wanneer die substasie weer ten volle in werking sal wees nie.

“Sodra die stroombrekers geïnstalleer is en die panele weer aanmekaargesit is, sal tegnici met opvolgtoetse begin wat sal bepaal wanneer kragtoevoer herstel kan word,” het ʼn woordvoerder van die munisipaliteit gesê.

ʼn Transformator wat by die Munic-substasie onklaar geraak het, sal eers Vrydag afgelewer word, maar voorbereidende werk om krag te herstel is reeds aan die gang.

Volgens die munisipaliteit was daar vroeër vandeesweek betogings in die gebied om die Sammons-substasie aan die gang weens die voortslepende kragonderbreking.

“Die munisipaliteit doen ʼn beroep op lede van die publiek om geduldig te wees terwyl tegnici daaraan werk om kragtoevoer te herstel.”

Gebiede wat deur die Sammons-substasie bedien word, se krag sal na verwagting Donderdag herstel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

Steyn ·

Dit is nie net oor paas naweek nie, dit gebeur elke 2 tot 3 weke wat hulle so sukkel daar!

Ronel ·

Steyn dit is waar maar daar is areas in vanderbijlpark wat maklik 2-3 dae per week sonder krag dit. Dit is baie erg!

Mariana ·

Mens kan nie glo hoe baie hier tipe misdaad toeneem nie. Asof beurtkrsg nie genoeg is nie. Hierdie kriminele moet gestuit word

gatgogga ·

Hoe wil jy nou kriminele stuit, in ‘n land wat aan kriminele behoort?

Frank ·

Noem hom op sy naam en skep ‘n wet daarvoor:
ekonomiese terrorisme

marius ·

” Ons het geen geduld waneer dit kom by hierdie soort misdade nie ” Ja julle het .

Carl ·

En steeds is die skrootmaatskappye in besigheid – ongereguleer (as dit gereguleer was sou dit mos nie gebeur het nie) Miljarde rande se infrastruktuur word teen ‘n honderdste van die waarde aan hierdie klomp kriminele verkoop!

anniekiewiet ·

Ek het al baie keer hier by ons gevra waar die eintlike afsetpunt lê, maar niemand het n antwoord nie. Iewers moet dit groot geld inbring, hoekom anders is dit so erg…

Jacobus ·

Hierdie klink vir my meer na ekonomiese sabotasie as kabeldiefstal.

Di ·

Soek die “baasbrein” wat agter hierdie sabotasies sit – Dis duidelik nie afsonderlike voorvalle nie, sekere mense of ‘n organisasie, dalk ‘n politieke party wil die land verwoes en onregeerbaar maak. Dis dieselfde met die plaasbrande wat so aanmekaar plaasgevind het asook infrastruktuur wat vernietig is. Grootskaalse SABOTASIE/TERRORISME is besig om te ontvou in die land

Tanniepetoors ·

Kan iemand vir my verduidelik hoekom beskadiging van infrastruktuur van dié aard nie geklassifiseer word as sabotasie nie?

domheks ·

en so brand die land en ons prez is dood stil, gee liewer vir ander lande hulp!

Johan ·

Dit skree sabotasie. Die mense wat in hegtenis geneem is voer bevele uit van iemand. Nou dit is daai iemand wat gevang moet word

anniekiewiet ·

Dit lyk tog of die “wie ookal” dit moet stop, nie te ernstig is nie. Sit ons regering en parlementslede en hogere munisipale amptenare ook sonder krag?

Magda ·

GOD SAL VOORSIEN, EN SIEN OOK ALLES RAAK. MY HOOP IS BY HOM. AMEN

Hugo ·

Dit gaan my verstand te bowe dat die weermag nie hierdie plekke oppas nie. Volgens my behoort dit sleutelpunte te wees

anniekiewiet ·

Dalk is daar vrees vir die hoogste mense wat dit organiseer. ????

Di ·

Kry die waarheid uit die wat gevang is – Seker mal emma wat sy trawante uitstuur

Jr ·

Die mense soos Solidariteit en Afriforum moet ondersoek instel of hierdie nie economic sabotage deur bv eff’ers of blf mannetjies. PW het gepraat van die rooi gevaar. Toe lag ons vir hom. Siedaar dit is orals nou. Ons moet wakker wees

JANA ·

Wonder waar SAPS [MAG] is. Hulle ken mos van …[dalk magteloos..]

Mariaan ·

Swak sekuriteit!!! NIEMAND moet so maklik daar kan inkom nie?? Deur “voor te gee” hul werk daar..belaglik!

Swerwer ·

Weereen is die die onvermoë van die ANC om wet en orde te handhaaf, die kommunisme is uiters pateties

Ria ·

Maar van mnr de Ruyter word onsimpatiek verwag om krag te lewer

Waarnemer ·

Die enigste oplossong vir hierdie misdaad is om handel in koper onwettig te verklaar…geen skrootmetaal handelaar moet toegelaat word om koper op te koop nie.

pieter ·

Ons land is in sy peutjie , die regering is useless.
Dit gaan nog erger raak ,
ONS MOET SAAMSTAAN TEEN DIE VUILGOED,

Bertus ·

Die vertragings in hofsake word nou ‘n klug. As daar duidelike bewyse en ooggetuienis is, waarom kan die of nie ‘n besluit maak om die OVG te verplig om die saak binne sê 3 x maande te finaliseer nie. Dit ons regstelsel ‘n klug in die oë van internasionale reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.