Drie swaar gestraf na moord op polisiebeamptes

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Drie mans is swaar gestraf nadat hulle skuldig bevind is aan die moord op twee polisiekonstabels in die Oos-Kaap.

Zwelithini Gwebelele (43), Masimthembe Mbashe (36) en Mawande Nkomo (33) is in die hooggeregshof in Mthatha gevonnis tot twee keer lewenslange tronkstraf elk. Hulle is skuldig bevind aan die moord op konstabels Nkosiphendule Matiwane (30) en Sithembele Alex Mbadlanyana (30).

Die drie moordenaars het op 21 Oktober 2011 saam met nog ʼn makker ʼn winkel in Tsomo beroof. Die polisie is ontbied en ʼn skietgeveg het uitgebreek. Die twee polisiebeamptes is doodgeskiet. Die mans het hierna die beamptes se liggame uit die polisievoertuig gehaal en in die straat gelos voordat hulle gevlug het. Een verdagte is ook tydens die skietery gewond en het naby die toneel aan sy beserings beswyk.

Die ander drie beskuldigdes is in 2012 in hegtenis geneem en was sedertdien in aanhouding. Gwebelele, Mbashe en Nkomo is ook tot nog 10 jaar tronkstraf gevonnis vir die dood van hul makker. Mbashe is tot nog 20 jaar tronkstraf gevonnis vir roof, terwyl Gwebelele en Nkomo elk 15 jaar tronkstraf opgelê is op hierdie aanklag. Hulle is ook tot nog vyf jaar tronkstraf gevonnis vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

Genl.maj. Nyameko Nogwanya, hoof van die Valke in die Oos-Kaap, het die vonnisse verwelkom. “Ons het beloof om nie te rus voordat diegene wat ons polisiebeamptes vermoor, in hegtenis geneem en vervolg word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hester ·

Dis goed om te hoor. Hulle moet daai straf op almal wat moor uitdien of erger.

Jean ·

Goed om te hoor, nou moet die strawwe vir moordenaars van plaasboere en gewone burgers wat in hulle huise aangeval en vermoor word NET so ernstig opgeneem word.

Magrette Louw ·

Ek het, solank dieselfde straf nie uitgedeel word ook aan die moordenaars van boere nie, geen simpatie nie, net afkeer in ‘n stelsel wat net vir een goed genoeg is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.