Drie tronk toe gestuur oor hondegeveg

Beamptes van die NDBV op die toneel van die hondegeveg. (Foto: NDBV)

Drie mans is vandeesweek in die Roodepoort-streekshof in Johannesburg direkte tronkstraf opgelê vir hul betrokkenheid by ʼn brutale hondegeveg wat daartoe gelei het dat ʼn aantal honde van kant gemaak moes word.

Wendy Willson, senior inspekteur by die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV), sê aan Maroela Media die drie mans was deel van ʼn groep wat in 2016 in hegtenis geneem is toe polisiebeamptes en inspekteurs van die NDBV toegeslaan het op ʼn hondegeveg in Dobsonville, Soweto.

Daar is ten tyde van dié klopjag op tien honde beslag gelê. Van die honde was so erg beseer dat hulle van kant gemaak moes word om hul lyding te beëindig. Die ander honde is in ʼn rehabilitasieprogram geplaas, sê Willson.

Die eerste groep mans wat in hegtenis geneem is, is reeds einde 2017 gevonnis. Die saak teen Teboho Godfrey Tabethe, Bongani Cullen Radebe en Retshidisitswe Steve Mohoyo het egter nog tot vanjaar gesloer totdat hulle onlangs skuldig gepleit het op die aanklagte teen hulle.

Volgens die NDBV is Tabethe (36), ʼn veiligheidskontroleerder, en Radebe (23), ʼn motorwerktuigkundige, 32 maande direkte tronkstraf opgelê, asook ʼn verdere vonnis wat opgeskort is. Die hof het ook beslis hulle is nie geskik om ooit weer enige diere, van enige spesie, te besit nie.

Een van die honde waarop daar beslag gelê is. (Foto: NDBV)

Tabethe en Radebe het deelgeneem aan die hondegeveg in Dobsonville toe die NDBV die betrokke dag toegeslaan het. Willson het in die hof getuig hoe die twee mans probeer het om van wetstoepassers te vlug. “Nadat hulle hul honde gedwing het om aan die bloedige geveg deel te neem, het hulle die bloeiende, ontwaterde diere, wat albei baie ernstig beseer was en gebreekte bene opgedoen het, byna 2 km deur ʼn veld gesleep in ʼn poging om wetstoepassers te ontduik,” sê Willson.

Mohoyo, wat ʼn toeskouer by die hondegeveg was, is tien maande direkte tronkstraf opgelê, asook ʼn bykomende vonnis wat opgeskort is. Volgens Willson is Mohoyo die eerste toeskouer van ʼn hondegeveg wat direkte tronkstraf vir sy deelname aan dié misdaad opgelê is.

“Dit is ongehoord dat ʼn toeskouer direkte tronkstraf opgelê word, maar die landdros het dit duidelik gemaak dat hierdie misdaad op ʼn baie kleiner skaal in Suid-Afrika sal voorkom sónder toeskouers se ondersteuning en deelname aan die dobbelry wat met hondegevegte gepaardgaan,” sê Willson.

“Omdat die drie skuldig gepleit het, was die hof genadig in sy vonnis. Die landdros het ook gesê hy kon hulle baie swaarder vonnisse opgelê het – in daardie lig is ons dus bly oor die vonnis en meen ons dit is ʼn harde hou vir die euwel van hondegevegte.”

Een van die honde waarop daar beslag gelê is. (Foto: NDBV)

Willson het Kelebogile Sibi, die aanklaer, asook die polisiebeamptes van die Wes-Rand-honde-eenheid bedank vir hul ondersteuning aan die NDBV om hondegevegte stop te sit.

“Roodepoort is veral ʼn baie slegte gebied met betrekking tot hondegevegte. Sommige word goed georganiseer en ander gebeur baie vinniger. Ons is inteendeel deur lede van die gemeenskap in kennis gestel van die hondegeveg waar dié drie beskuldigdes in hegtenis geneem is. Die gemeenskappe is net so moeg vir hondegevegte, die geweld en die verskriklik beseerde diere, asook om hierdie wreedheid te aanskou,” sê Willson.

“Statistieke toon 70% van dieremishandelaars het al minstens een ander strafregtelike oortreding begaan en 40% het ʼn geweldsmisdaad teenoor ander mense gepleeg. Ons versoek mense om die NDBV se spesiale ondersoekeenheid te help en as fluitjieblasers op te tree sodat hierdie gewelddadige misdadigers vervolg kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

jakes ·

Tronkstraf word verwelkom, net jammer dat dit 10 jaar te min is.

karen ·

hulle moet eers ook so beseer word, bene gebreek word en dan deur die veld gesleep word.

Callie ·

En julle noem die eienaars mense. Dis gemors man. Skuim. Vernietig hulle

Ellisras ·

1 + 1 is nie 2 nie. Dit is nou as dit kom by tronkstraf. Ek is nie ‘n expert nie. Maar 5 jaar of minder beteken net 10 maande. Dan kan jy parool vra. MM kan gerus ‘n artikel oor dit doen.
Die algemene publiek is egter gou om te sê 10 jaar tronkstraf. Eerstens verloor jy jou werk. Dit is deel van die straf. Die kriminele rekord is deel van die straf. En ‘n jaar in die tronk is ‘n baie lang tyd.

Antoinette ·

N jaar kan maar erf wees dit is hoekom hulle tronkstraf n afskrikmiddel noem. Om ander daaruit te laat sien. Ongelukkig is dit n sirkus in SA

VanAfrika ·

@Ellisras, as hulle ooit werk gehad het, tronkstraf is vir hulle speletjies.

geeftag ·

Wou jy gehad het hulle moes medaljes kry Ellisras? Sies vir jou. Daar was ‘n klomp erg beseerde honde vankant gemaak as gevolg van die wreedaards se hebsug.

McG ·

Ellisras, ek stem volkome met jou saam. Ek wens mense wat so hard raas wil die moeite doen om bietjie uit te vind presies waaroor dit presies gaan. Maar nou ja – dit is wat dit is

Lizelda ·

Op hierdie berig sal ek liewer nie my eerlike opinie gee nie, sal defnitief toegesluit word. Dankie NDBV dat julle hierdie diere gered het. Ek kan nie eers amper begryp waarom monsters so ver sal gaan om by hondegevegte betrokke te raak nie. Dis dan n lewe met gevoelens en geloof id mensdom? Ek hoop die arme honde herstel en kry die nodige terapie. Dalk n “feel good” opvolg storie MM?

Shanie ·

Dom, sal jy asb jou kommentaar verduidelik? Dis baie onsensitief! Dis onkuldige diere wat uitgebyt en verniel word ……………

Liefieleeu57 ·

Een g, agt a’s, een p en ons weet wie jy is…ha ha!

Penellope Jones ·

Watse tipe mens het dit in hom om toe te sien dat diere so ly?????

JohanL ·

Baie goeie nuus. Het net gehoop tronkstraf sal langer gewees het.

Furbaby ·

Zet ek is saam met jou op daai een.
Kyk ek weet ons mag nie lelike goed vir mense toewens nie en en….maar die vet weet ek is seker ek sal vergewe word vir wat ek aan hulle sal doen. dis daai ongeletterde goed wat in die samelewing toegelaat word ! Suurstofdiewe.

Gereg Seëvier ·

Wens die publiek in die omgewing wil gereg in eie hande neem wanneer hulle op ‘n hondegeveg afkom. Ongelukkig is dit so dat die wat die gevegte aanbied, BOELIES is, en die publiek te bang is vir hulle. Dankie DBV dat julle weereens ingetree en nie opgegee het nie. Mag almal wat by hierdie “diere redding” betrokke was, ryklik geseën word!

Mich ·

Ek stem heeltemal saam met jou Ronel.. Wens sommer hulle kon lewenslange tronkstraf kry.. Niks simpatie met sulke mense nie (wens ek kon se wat ek wou,want hulle is nie mense nie) Hulle gaan spyt wees eendag….

Fryingfrog ·

Ons sien gereeld jong swart seuns, wat eintlik in die skool hoort, met honde aan leibande in Mosselbaai se strate rondloop. Ons het ookal gedink hulle is op pad na gevegte toe. Waar daar geld te maak is, word mense duiwels…

geeftag ·

Tog het “ons” dit goed gedink om anderpad te kyk en nie die ndbv of die polisie in kennis te stel nie. Dan kan jy hier kom spog daaroor. So jammer jou naam is nie by nie, dat almal kan sien wat jy toelaat.

Gert J ·

Die toeskouers behoort tronkstraf te kry, want hulle is direkte rede hoekom die mense dit doen.

Anni ·

Volgens Wilson is dit ‘ongehoord’ dat toesskouers tronkstraf Kry. My hel di deler net so goed soos steler. Waarom tronkstraf gee vir sulke gespuis, gooi hul in honde hok sodat hul verskeur kan word. Tronkstraf is ni straf ni, jy Kry gratis kos, blyplek en ek betaal daarvoor. Plaas sien hul bietjie straf prosedure na en maak dit straf Wat erge STRAF is!!!!!!!!!!!!

Jepetto ·

Woef Woef ! laat hulle sit geregtigheid vir ons diebare diere ek smile nou soos a kat wat botter gekry het

P ·

Sies wat n skande voel ek kan opgooi net jammer die honde kan nie die tipe mens so verskeur nie, sodat hulle van hulle eie medisyne kry walg my tot in my siel in, arme honde.

toy ·

Dis reg tronk toe met hulle. Dit is verseker nie mense wat lief is vir diere nie, want as hulle was, sou hulle dit nie gedoen het.

Esme ·

Net n jammer dat die wat hulle eie honde met kook olie gooi en vas maak aan kettangs dat hulle heeldag in die son staan geen tronkstraf kry nie, en dat daar geen wet is daarteen nie

Bamsie ·

Die mens het n wreedheid in hom wat by geen ander spesie voorkom. Ek vermoed die oortreders gaan dit weer doen as hulle uit die tronk kom. Wat van al die diere in die informele nedersettings wat met n draad vasgebind word sonder water en kos en skuiling.

akker ·

met klein vloeksels wat hulle ore met stomp, geroeste skere sny. Wens ek kan daardie tyd op hulle afkom. Verkieslik wanneer ek met my honde stap.

Lalie ·

Nou gaan die diere seker van kant gemaak word. Want hulle byt. Hie wreed is die mens nie.

Tammy ·

Ag nee , dit is n skande wie gee sulke patetiese straf? hoekom het jy hulle nie sommer vry gespreek nie…dit is presies dieselfde n skande n patetiese straf. Dit was n afgryslike daad van verminking van diere wat nie vir hulleself kon opstaan nie, daar is duisende rande spandeer om hierdie moordenaars vas te trek, daar is hope geld spandeer aan die hofaaak en die regter vind dit goed om so n straf so lig te gee…….ek skaam my dood vir wat die regstelsel in hierdie saak as goed genoeg bestempel!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!SIES MAN

Johanna Botha ·

Baie bly vir dit …stuur reguit tronk toe ! Het eenkeer in Thembaleto naby George gesien hoe Oud en jonk toekyk hoe twee honde mekaar veskeur …hoe kan mens jou kind na so iets laat kyk. Het dit gaan raporteer by die polisie wat gese het hulle sal gaan kyk ?….was so omgekrap na ek dit gesien het !

Valerie ·

En dis die tipe mans (die honde eienaars) wat dink hulle is ware mans. Alles behalwe, as hulle maar net weet wat vroue werklik van hulle dink. Ek wonder wie het meet “sterodes”? Die honde of hul “ware man” base?

Johannes ·

Het julle al gesien hoe dit lyk as wildehonde, ratels, leeus en luiperds met mekaar veg? As wildehonde ‘n gemsbok lewend van agter af opeet? Die DBV moet gaan kyk in die wildtuin…

Susan ·

Kan hul asb. Tog ook 100 sweep houe kry…ai ai tronk beteken niks! Gaan dit net weer doen.

Rudolph van Wyk ·

Vir ons is ‘n hond ‘n geliefde troeteldier, vir ander is dit ‘n kommoditeit om mee geld te maak of vermaak ter verskaf. Diere wat gebruik word vir stiergevegte, sirkusse, dieretuine, jag, rodeos, perdewedrenne, hondewedrenne, hondegevegte is almal in dieselfde bootjie. Hulle voldoen in alle opsigte aan die definisie van ‘n slaaf. Dit het die mens duisende jare geneem om te besef dat slawerny ‘n wrede onreg is. Swart mense uit Afrika is vir amper 400 jaar slawe gemaak omdat mense geglo het hulle lewens is minder werd omdat hulle anders lyk. Danksy Britanje en Amerika wat die voortou geneem het is dit ongeveer 200 jaar gelede afgeskaf. Die mens gebruik egter steeds dieselfde rasionaal om van diere slawe te maak. Daar is darem al ‘n paar miljoen mense op aarde wat standpunt in neem daar teen en miskien oor ‘n honderd jaar of so sal dit ook afgeskaf word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.