Drie van berugte Rolex-bende vas

Foto: Twitter

Drie lede van die sogenaamde Rolex-bende is Dinsdagmiddag in Johannesburg in hegtenis geneem.

Dié berugte bende is bekend daarvoor dat hulle onder meer mense agtervolg en hulle van duur juweliersware beroof. Hulle word veral met misdade in Sandton verbind. Volgens berigte is die SAPD al vir jare op die bende se spoor.

Kol. Brenda Muridili, woordvoerder van die polisie, het gesê die drie verdagtes is op die R25 in Modderfontein vasgetrek tydens ʼn hoëvlak-intelligensiegedrewe operasie. Volgens Muridili kom die inhegtenisneming ná ʼn intensiewe ondersoek deur verskeie wetstoepassingsowerhede.

Lede van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, die Valke, die polisie se honde-eenheid, die Alexandra Trio-taakspan, die Gautengse verkeerseenheid en die Tracker Connect-ondersoekdepartement was almal by die operasie betrokke.

“Hierdie span het die bewegings van die verdagtes dopgehou sedert die voertuig in Mei in Alexandra gekaap is,” het Muridili gesê.

“Die operasie is net ná 13:00 in werking gestel met behulp van die polisie se lugvleuel en lede van die Ekurhuleni-metropolisie. Toe die verdagtes besef hulle is vasgekeer, het hulle op die span losgebrand en die polisie het teruggeskiet. Drie verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem – een van hulle is in die skietery gewond.”

Volgens Muridili is daar op die gekaapte voertuig, twee vuurwapens, ammunisie en ander items beslag gelê.

Die saak sal deur die Valke ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

C ·

Goeie werk SAP en ander lede wat gehelp het. Ek wens die plaasmoordernaars kan ook so vinnig vas getrek word.

Wonder net ·

Hoe wonderlik dit sou wees sou daar n hoëvlak- inteligensiegedrewe misdaad ondersoek kan plaasvind na plaasmoorde soos na Rolex diewe.

Loon ·

Wanneer skiet hulle nou so terug dat daar n permanente oplossing is?

Cherokee ·

Loon, of dit werklik altyd ‘terug’skiet is, is nie bekend nie, maar dit lyk asof jo’burg se polisie nou by die Natalse cops opleiding ontvang, want in Kwa-ZuluNatal word die crooks dikwels gepeper.

Foxi ·

Reg so……kry vir julle!!Nou gaan julle normale ‘tyd’ hê en NIE goue tyd nie. ???

Alida 2 ·

Kyk net na al die mense: Taakmag , eenhede, lugvleuel ens om die mense vas te trek.
Voorwaar ‘n goeie poging en samewerking tussen almal.
Die howe moet nou ook hulle samewerking gee en nie sommer borg toestaan nie.
Dit kos baie tyd en geld om sulke operasies uittevoer. Mense lewens is ook op die spel want die boewe is gewapen.
Ek dink die rolspelers raak moedeloos as hulle hoor borg is toegestaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.