Drie van Clover hoor gou oor borgtog

Tembisa-landdroshof. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die drie beskuldigdes wat teregstaan op die moord van twee veiligheidswagte by Clover se sakeperseel in Olifantsfontein vroeër vanjaar sal na verwagting volgende week hoor oor hul borgtogaansoek.

Lesiba Mantsi, Melford Rammutla en Ralph Shingane se borgtogaansoek word gesamentlik voor die Tembisa-landdroshof gebring. Die aansoek is al in Junie ingedien.

“Al die partye moet nou teen 22 Augustus hoofde van betoog liasseer en dan gaan die landdros op 26 Augustus uitspraak oor hul borgtogaansoek gee,” het AfriForum, wat die oorledenes se families in die saak bystaan, by navraag aan Maroela Media gesê.

Die drie verdagtes word saam met Mohale Shokane en Nkosinathi Mbatha daarvan beskuldig dat hulle Terence Tegg en JJ Cassanga destyds met klippe bestook het.

Tegg is op die toneel dood verklaar, terwyl Cassanga by die hospitaal opgeneem is. Hy is egter in Junie dood nadat hy in sy dokter se spreekkamer inmekaargesak het. Hy is vermoedelik aan ʼn breinaneurisme dood.

Ná Cassanga se dood is die aanvanklike aanklag van poging tot moord na moord verander. Al vyf verdagtes staan nou tereg op twee aanklagte van moord.

Shokane en Mbatha se borgtogaansoek is reeds in April van die hand gewys. Hulle sal in polisieaanhouding bly totdat ʼn verhoordatum vasgestel is.

“Ná Mantsi, Rammutla en Shingane se borgtogverrigtinge behoort ons ʼn verhoordatum te kry, tensy die polisie nog verdagtes in die saak in hegtenis neem.”

Sofia Johannes, Cassanga se niggie, het vroeër vandeesmaand gevra dat geregtigheid nou dringend geskied nadat gewelddadige betogings in Tembisa die saak verder vertraag het.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het intussen onderneem om die saak fyn dop te hou en broodnodige ondersteuning en leiding aan die betrokke families te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hendrik ·

Die swaar verdiende belastinggeld word gebruik om hd misdaadskuim te versorg. Wat sal die totale som geld wees. Hul moet die harde pad loop sodat daar n bate vir die land wees.

Anel ·

Borg aansoeke kos geld. Vir sekere misdade moet daar nie borg wees nie. Dan kan verhore ook vinniger afgehandel word.

christo ·

Stem. Dit sal die regsproses versnel, dikwels tot voordeel van beide partye. Die twee beskuldigdes kan moontlik ‘n vlugrisiko wees.

Nico ·

Die regs howe is almal pateties, hoekom moet daar eers besluit word of daar borg gegee word of nie. Die beskuldiges kan nie vry gelaat word nie, Gerrie Nel moet hulle gas gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.