Drie van hoofregter se kantoor in hof oor IT-tender

(Foto: Maroela Media/ Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Drie voormalige werknemers van die kantoor van die hoofregter het Woensdag in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg verskyn vir hul beweerde aandeel in die toekenning van ʼn onreëlmatige inligtingstegnologie-tender van R255 miljoen.

Yvonne van Niekerk, voormalige saakbestuurshoof, Nathi Mncube, voormalige woordvoerder van die kantoor van die hoofregter en hoofdirekteur van hofadministrasie, en Casper Coetzer, voormalige finansiële hoof, word daarvan beskuldig dat hulle hul posisies as senior bestuurders wederregtelik gebruik het om ʼn kontrak ter waarde van R225 miljoen te onderhandel en toe te ken aan die internasionale media- en tegnologiemaatskappy Thomson Reuters.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê daar word verder beweer dat Coetzer tydens onderhandelinge om die kontrak te hernu vir Van Niekerk en Mncube as lede van die bodspesifikasiekomitee aangestel het met die doel om ʼn subkontrak aan ʼn maatskappy genaamd ZA Square Consulting suksesvol te beding.

“Ondersoeke het aan die lig gebring dat hulle as direkteure van ZA Square Consulting gelys is en elkeen 30% voordeel getrek het uit die R225 miljoen-kontrak waarvoor hulle namens die kantoor van die hoofregter onderhandel het.”

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê ʼn forensiese oudit het die drie in Junie 2022 onder die Valke se aandag gebring.

“Die oudit het onthul dat die drie versuim het om hul eienaarskap van ZA Square Consulting bekend te maak toe hulle in Desember 2022 hul belangstelling uitgespreek het om subkontrakteurs te wees. Hulle het ook deel gevorm van die tendertoekenningskomitees in die hoofregter se kantoor terwyl hulle geweet het dat dit op ʼn botsing van belange neergekom het.”

Mogale sê die oudit het ook aan die lig gebring dat die beskuldigdes die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupsieaktiwiteite en die Wet op Openbare Administrasiebestuur oortree het. Die saak is om dié rede toe ook vir ʼn indringende ondersoek verwys.

Daar is in Augustus 2022 beslag gelê op Van Niekerk, Mncube en Coetzer se rekeninge.

Die drie het hulle egter vanoggend aan die polisie oorgegee en in die hof te verskyn waar hulle elkeen borgtog van R10 000 toegestaan is.

Hulle moet weer in Februarie in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Aggie ·

Sommer so onder die oë van die hoofregter? Hoe erg is die korrupsie nie in ons gefaalde land nie! Dankie aan doe ondersoekers wat hulle blootgelê het. Ons sal meer tronke moet bou.

Boon ·

Die kiem van korrupte en oneerlike gedrag het nou al alle bevolkingsgroepe infekteer. getref

Boon ·

Die kiem van korrupte en oneerlike gedrag het nou al alle bevolkingsgroepe infekteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.