Drie van NSFAS steel glo studente se geld

Voornemende studente in Limpopo wag om hul aansoeke vir finansiering vir die 2020-studiejaar in. (Foto: NSFAS/ Facebook)

Misdadigers beroof jong Suid-Afrikaners van hul geleenthede op ʼn beter lewe.

Dít volgens die DA, wat reageer het op Woensdag se inhegtenisneming van drie werkers van die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS).

NSFAS se uitvoerende administrateur, dr. Randall Carolissen, het gesê die drie werkers, almal verbonde aan die Wynberg-kantoor in Kaapstad, is op aanklagte van bedrog aangekeer. Hulle het glo studentetoelae in hul eie bankrekeninge inbetaal.

Die skema is in 2018 onder administrasie geplaas. Sedertdien is ʼn hele aantal forensiese ondersoeke gedoen wat onder meer verband hou met die algemene uitbetaling van geld, studentetoelae en die uitlek van sensitiewe en vertroulike inligting.

Carolissen het gesê die drie het glo betaling by aansoekers gevra sodat hul aansoeke verwerk kan word, óf om selfs toegang tot aansoekvorms te kry. NSFAS se aansoekproses is gratis.

Die DA het ná die inhegtenisneming gesê dit is uiteindelik die kwesbaarste studente wat die hoogste prys betaal vir diefstal en onderduimsheid by die skema. “Van korrupte amptenare, tot die toekenning van verdagte tenders aan die gewese VBS Mutual Bank – NSFAS het duidelik ʼn krisis,” het Baxolile Nodada, die DA se woordvoerder van hoër onderwys, gesê.

“Minderbevoorregte studente by tersiêre instelling kry swaar en ly dikwels honger, word uit hul blyplekke geskop, óf wend hulle tot woekeraars omdat NSFAS ʼn geldkoei vir skelms geword het.”

Nodada sê dit is nie genoeg dat NSFAS net onder administrasie geplaas en ondersoek word nie. “Ons doen ʼn beroep op die departement van hoër onderwys om te besluit hoe finansiering aan studente toegeken kan word, sonder dat daar deur die skema se sentrale stelsel gewerk word.”

Die DA sê die departement móét verseker dat NSFAS ʼn doeltreffende stelsel het om toelae uit te betaal en dat die geld wat vir studente bestem is, beskerm word.

Volgens NSFAS gaan die drie werkers se inhegtenisneming geen uitwerking hê op die 2020-aansoekproses nie. Aansoeke om studentefinansiering vir volgende jaar sluit op 30 November.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Semaarnet ·

Vinnige voorbeeld – geld word op studenterekening gedebiteer, maar nie uitbetaal aan die student. By navraag oor die debietbedrag word daar eenvoudig gesê – konfronteer die student en check die bankrekening – die geld is uitbetaal aan die student. Dan sit jy met die student se bankrekening staat voor jou en daar is geen geld inbetaal nie……spring op en af en dreig met verdere stappe en die geld verskyn skielik op die student se rekening. Sê maar net…..

Foxi ·

Hoe giggel ek nou. Hulle kan nounet nie hul hande van geld afhou nie! Daar is geen toesig oor die soort dinge nie. Jy kan gaan net waar jy wil, korrupsie is ooral. Waar het hulle dit geleer? Almal weet seker.

Jerry ·

Kaders se ideologiese geldgierigheid het die oorhand by talle finansiele instansies in SA. Hierdie kaders is net soos die staatskapers absoluut daarop uit om onherstelbare skade aan te rig en hulle kry dit reg omdat hulle tydens staatskaping aangestel is met een doel voor oe en dit is om hulself te verryk. Die oplossing vir die probleem is om alle kaders wat tydens staatskaping aangestel was, te fire en nooit ooit weer die kaders te herontplooi of aan te stel nie!

GM ·

Ek wens hulle wil ophou om altyd na almal te verwys as ‘die kwesbaarstes’, en die ‘armstes van die armes’. Baie van die sogenaamde ‘armes’ is beter af as baie mense wat werk, en vir alle dienste moet betaal.

Plaas daar ‘n poging aangewend word om werk te skep, of mense te bemagtig om na hulself te kan omsien, in plaas van net die hele tyd vir hul te vertel hoe arm hulle is en hoe hulle alles gratis moet kry.

Baie van ons moes lenings aangaan en ons alies afwerk dit af te betaal. Wat is fout met die ‘kwesbares’ dat hulle dit nie ook kan doen nie? Beurse kan gegee word aan dié wat bewys het dat hul ernstig is oor hul studies en nie net daar is vir die ‘free ride’ nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.