Drie van ‘renosterhoring-sindikaat’ in hof

Yu Chich Huang en Chen Shuihua (Foto verskaf deur die Valke)

Drie verdagtes, wat glo die baasbreine agter ʼn beweerde renosterhoring-sindikaat is, het Vrydag in die landdroshof in Kempton Park verskyn.

Yu Chich Huang (45), Chen Shuihua (45) en ʼn vrou, Ping Wu (45) se saak is tot 22 Augustus uitgestel vir ʼn tolk, het kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), gesê. Hulle bly in aanhouding.

Die Valke het Donderdag ʼn geïntegreerde span kundiges ontplooi om lasbriewe uit te voer naby Johannesburg ná maande lank se ondersoek na ’n beweerde renosterhoring-sindikaat.

Daar is tydens die inhegtenisneming op twee renosterhorings, twee voertuie en R70 000 in kontant beslag gelê nadat op drie verskillende persele toegeslaan is.

Die operasie het gevolg op ʼn jaar lange ondersoek deur die Valke in Mpumalanga na hierdie glo berugte sindikaat wat renosterhorings in Suid-Afrika en in die buiteland verhandel.

Ping Wu (Foto verskaf deur die Valke)

Volgens Sekgotodi is die geïntegreerde ondersoek uitgevoer in samewerking met SANParke, die departement van omgewingsake, die Finansiële Intelligensiesentrum, die batebeslagleggingseenheid, misdaadintelligensie, die departement van binnelandse sake, die Nasionale Vervolgingsgesag en die Mpumalanga-parkeraad.

Verskeie geheime transaksies is tydens die ondersoek met die sindikaat gedoen, wat hul bande met die handel in renosterhoring in Gauteng blootgelê het. Die sindikaat het noukeurig gewerk en probeer om alle wetstoepassingsoptrede teen te werk om hul handelinge te beskerm, wat dit ’n uiters moeilike ondersoek gemaak het, het Sekgotodi bygevoeg.

Die ondersoek duur steeds voort en volgens Sekgotodi kan nog inhegtenisnemings volg.

Die provinsiale hoof van die direktoraat vir ondersoeke na prioriteitsmisdaad in Mpumalanga, genl.maj. Mokoena, het die uitmuntende werk van haar lede geprys en gesê dat die lede altyd hard werk om misdaad binne en buite die provinsiale grense te bekamp.

Die nasionale hoof van die direktoraat vir ondersoek na prioriteitsmisdaad, lt.genl. Lebeya, het die geïntegreerde werk geprys wat tot die aftakeling van hierdie sindikaat vir wildhandel gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Stephanus ·

Skuim van die aarde! Ek hoop hulle word vir baie jare tronk toe gestuur!

Cherokee ·

Ons lees somtyds, te min na ons sin, van stropers wat gevang word, maar omtrent nooit indien ooit, van straf wat toegepas word.

wilma ·

vuilgoed word mos maklik in SA ontvang. lewenslank sonder parool vi die gemors

CHAPPIES ·

Gladnie verbaas nie…die gemors!
Seker ook grotendeels china se morsige belangstelling in dom Sa se finansies,om nou ÁL die renosters uit te roei!!
SKUIM VAN DIE AARDE

Johan Swart ·

Gelukkig is daar n Skepper wat die laaste Regter is wat jy sien voor jou laaste vonnis in hierdie realm…good luck.

Waldo ·

China gaan binnekort inspring en aanspraak maak daarop dat SA hul terugstuur Asië toe, waar hul ‘gestraf sal word’… En dan gaan ons gedreig word deur hul ook, en dan is die saak en “investigation” onder die mat ingevee.

humor ·

Moet die belastingbetalers dan nog ook buitelandse kriminele in die tronke versorg? Deporteer hulle. Raak ontslae van die gemors. Is hul ooit wettig in die land.

Emma ·

Hulle is besig om ons diereryk te verwoes, dit is hoekom hulle in die land is. Om hulseld te verryk ongeag die arme diere, deporteer hulle.

Niklaas ·

n Tydjie gelede was n sindikaat hoof in SA gearresteer vir renoster stropings….en net rustig gedeporteer na sy tuisland Vietnam. M.a.w. absolute vryheid is hom toegestaan. Geen straf hier en ek twyfel of hy n naweek in tronk daar sou deurbring. Derhalwe verwag ek nie dat hierdie skuldiges aan die pen gaan ry nie. Ons weet nie watter besluite word geneem agter die skerms nie. Laat ons maar sien hoe eindig hierdie hoofstuk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.