Drie van ‘renosterhoring-sindikaat’ vas

Argieffoto

Die Valke het drie verdagtes wat glo die baasbreine agter ʼn beweerde renosterhoring-sindikaat is, in Gauteng in hegtenis geneem.

Die Valke het Donderdag ʼn geïntegreerde span kundiges ontplooi om lasbriewe uit te voer naby Johannesburg na maande lank se ondersoek na ’n beweerde renosterhoring-sindikaat.

Volgens kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, is drie verdagtes, tussen 45 en 53 jaar oud, in hegtenis geneem. Daar is op twee renosterhorings, twee voertuie en R70 000 in kontant beslag gelê nadat op drie verskillende persele toegeslaan is.

Die operasie het gevolg op ʼn jaar lange ondersoek deur die Valke in Mpumalanga na hierdie glo berugte sindikaat wat renosterhorings in Suid-Afrika en in die buiteland verhandel.

Volgens Sekgotodi is die geïntegreerde ondersoek uitgevoer in samewerking met SANParke, die departement van omgewingsake, die Finansiële Intelligensiesentrum, die batebeslagleggingseenheid, misdaadintelligensie, die departement van binnelandse sake, die Nasionale Vervolgingsgesag en die Mpumalanga-parkeraad.

Verskeie geheime transaksies is tydens die ondersoek met die sindikaat gedoen, wat hul bande met die handel in renosterhoring in Gauteng blootgelê het. Die sindikaat het noukeurig gewerk en probeer om alle wetstoepassingsoptrede  teen te werk om hul handelinge te beskerm, wat dit ’n uiters moeilike ondersoek gemaak het, het Sekgotodi gesê.

Die ondersoek duur steeds voort en volgens Sekgotodi kan nog inhegtenisnemings volg. Die verdagtes sal na verwagting Vrydag in die Kempton Park-landdroshof verskyn.

Die provinsiale hoof van die direktoraat vir ondersoeke na prioriteitsmisdaad in Mpumalanga, genl.maj. Mokoena, het die uitmuntende werk van haar lede geprys en gesê dat die lede altyd hard werk om misdaad binne en buite die provinsiale grense te bekamp.

Die nasionale hoof van die direktoraat vir ondersoek na prioriteitsmisdaad, lt.genl. Lebeya, het die geïntegreerde werk geprys wat tot die aftakeling van hierdie sindikaat vir wildhandel gelei het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris du preez ·

Pragtig. Kry hulle nou in die tronk en hou hulle daar

toy ·

Die beste nuus. Sluit hulle toe en wys hulle elke dag hoe wreed dit is wanneer ‘n renoster gemartel word. Ek dink hulle besef hoe wreed dit is nie, hulle worry net oor om die horings af te kry en voel absoluut niks vir die dier nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.