Drie vas, een dood ná hulle glo Kersgeld roof

plaas-polisie-veld

Argieffoto

Vier vermeende gewapende rowers het hul rieme lelik styfgeloop toe hulle probeer het om werkers op ʼn Noord-Vrystaatse melkplaas se Kersgeld te roof.

Corné Botma, veiligheidskoördineerder van Bothaville, vertel die werkers van Johan Schoeman se plaas, Grootpan, het heeljaar gespaar vir die geld wat kort voor Kersfees aan hulle uitbetaal sou word.

Schoeman het die meer as R150 000 die afgelope week aan ʼn plaaswerker gegee, wat dit dan onder die werkers sou uitdeel. Maar Woensdagaand het vier gewapende mans op die plaas aangekom en die bestuurder, sy vrou en kinders aangehou en gedwing om hulle na die vrou met die groot bedrag kontant te neem, vertel Botma.

Nadat hulle die geld by die vrou gekry het, het hulle te voet op die vlug geslaan, maar die vrou het haar kollegas geroep, wat Schoeman van die rooftog laat weet het. Hy het dadelik die veiligheidsnetwerk in kennis gestel, wat die noodplan vir plaasaanvalle in werking gestel het.

Bure het in ʼn oogwink opgeruk na Grootpan, sowat 35 km buite Bothaville in Kroonstad se rigting. Hulle het die rowers in bakkies agternagesit en daarin geslaag om hulle weg te keer van die voertuig waarin hulle van plan was om weg te kom, vertel Botma.

Die boere, onder wie Schoeman met ʼn span van sy werkers agter op sy bakkie, het die vier aanvallers eindelik in ʼn onbewerkte land vasgekeer nadat die vier na bewering meer as een keer op hul agtervolgers geskiet het.

“Hulle is ʼn paar keer gewaarsku om stil te staan en hulle oor te gee,” vertel Botma, “en dan skiet hulle op die boere en hardloop verder. In ʼn stadium, toe meer mense bygekom en hulle vasgekeer het, het hulle reguit op die boere en werkers afgestorm en weer op hulle geskiet. Gelukkig is niemand gewond nie.”

Van die boere het teruggeskiet en twee van die vier verdagtes gewond. Die een is sowat ʼn uur later dood terwyl die ander een in ʼn plaaslike hospitaal opgeneem is.

Toe die ontstelde werkers die vermeende rowers in die land wou bykom omdat die vier dit gewaag het om hulle van hul spaargeld vir Kersfees te beroof, moes die boere bontstaan om hulle te keer. Botma sê sover hy weet, is geen klagte teen van die werkers of boere ingedien nie.

Nadat die aanvallers in hegtenis geneem is, het die polisie op drie vuurwapens beslag gelê, maar een is nog soek nadat die vermeende rower dit glo weggooi het. Twee van die vuurwapens se reeksnommers is nog sigbaar en een het ʼn gravering van die SAPD op, vertel Botma.

Hy sê werkers het vroeër Woensdag ʼn verdagte voertuig stadig op en af buite die plaas sien ry. Bothaville se boere het die voertuig, ʼn wit Honda met ʼn Lesotho-registrasienommer, tot by Kroonstad gevolg.

Toe die bestuurder later begin jaag, het die boere dit reggekry om hom af te trek. Die polisie het opgedaag en die bestuurder aangekeer.

Botma sê Woensdagaand se gebeure wys hul veiligheidsplan werk. “Ek wil ʼn beroep op almal doen om betrokke te raak by hul veiligheidstrukture en inligting- en opleidingsdae by te woon sodat hulle weet wat om in ʼn noodsituasie te doen.”

Hy sê boere moet hulle bewapen en opleiding kry. “Ons is uitgelewer aan ʼn misdaadmilieu waaraan ons nog nie vantevore blootgestel is nie. Mense het nie meer genade nie: As hulle jou sien, skiet hulle jou.

“Die ouens moet betrokke raak by veiligheidstrukture. Dis nie net daar vir die boere nie; ook vir die plaaswerkers. In dié geval wys dit ons sal dit nie duld dat mense met ons werkers lol nie. Ons sal alles doen wat binne die wet is om ons werkers te beskerm.”

Hy bedank almal wat bereid was om betrokke te raak en gesorg het dat Grootpan se werkers nie die Kersgeld verloor waarvoor hulle heeljaar gespaar het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johnnie ·

Hulle kan maar ondersoek instel iemand van binne het gepraat of die inligting vir die rowers deurgegee want hoe het hulle geweet van die geld. Die polisie kan maar die plaas werkers goed ondervra daar is weer een wat alles vir homself wou hê.

LD ·

Stem! Iemand het beslis iets gese van die geld en wanneer dit op die plaas sou wees! Ai tog die greetigheid!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.