Drie vas, een dood ná jaagtog met polisie

Toe die insittendes van die Audi die polisievoertuig sien, het een van hulle op die polisie begin skiet, waarna hulle weggejaag het (Foto: Verskaf)

’n Verdagte is Sondag doodgeskiet nadat die polisie hom en sy makkers in Florida, Johannesburg, agternagesit het.

Volgens brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, was polisielede besig om die Westbury-woonbuurt te patrolleer toe hulle ’n verdagte maroen Audi Q5 gewaar.

“Toe die insittendes van die Audi die polisievoertuig sien, het een van hulle op die polisie begin skiet, waarna hulle weggejaag het. Die polisie het hulle agternagesit,” sê Muridili.

“’n Hoëspoedjaagtog het gevolg en op die hoek van Nadine- en Albertina Sisulu-weg in Florida tot ’n einde gekom toe een van die Audi se bande gebars het.”

Die polisie het op ‘n vuurwapen beslag gelê (Foto: Verskaf)

Die verdagtes het steeds op die polisie geskiet, maar dié het teruggeskiet.

“Drie verdagtes is in hegtenis geneem, terwyl een te voet gevlug het. ’n Vyfde verdagte is op die toneel dood verklaar nadat polisielede hom in die skietgeveg raakgeskiet het.”

Nie een van die polisielede het beserings opgedoen nie.

Die polisie het beslag gelê op ’n vuurwapen wat vir ballistiese toetse gestuur is om vas te stel of die wapen in vorige misdrywe gebruik is. Daar is vasgestel dat dié wapen in Januarie in De Deur gebuit is.

“Die polisie sal ook die verdagtes ondervra om vas te stel of hulle in vorige misdade betrokke was.”

Die verdagtes sal na verwagting Dinsdag in die landdroshof in Roodepoort verskyn op aanklagte van poging tot moord en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christine ·

Dankie tog, dis tyd dat die gemors vasgekeer word en nog beter, uit die samelewing verwyder word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.