Drie vas kort na moord op verkeersbeampte

Argieffoto: memyselfaneye (Pixabay)

Argieffoto: memyselfaneye (Pixabay)

Twee mans en ʼn vrou is in die Vrystaat in hegtenis geneem, kort na die moord op ʼn verkeersbeampte in Standerton, Mpumalanga.

Lt.kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê die drie verdagtes, twee mans van onderskeidelik 29 en 32 jaar oud en ʼn 20-jarige vrou, is Vrydagaand in hegtenis geneem, toe hulle Lesotho by die Maseru-grens wou binnegaan.

Polisiebeamptes is in kennis gestel om op die uitkyk te wees vir ʼn swart Jeep Compass met Lesotho-nommerplate, nadat ʼn verkeersbeampte vroeër Vrydag in Standerton doodgeskiet is. Die 37-jarige beampte is Vrydagmiddag drie keer geskiet nadat hy ʼn verkeersboete wou uitreik. Hy is op die toneel dood.

Volgens Mbambo is ʼn motor wat aan die beskrywing voldoen het by die grenspos voorgekeer en deursoek en beamptes het op ʼn vuurwapen, ammunisie en ʼn verkeersboete-kwitansieboek beslag gelê.

Die drie verdagtes word van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en diefstal van staatseiendom aangekla. Die polisie Standerton-polisie sal ook ʼn bykomende klag van moord ondersoek. Die verdagtes sal in die Ladybrand- en Standerton-landdroshowe verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Elmien ·

Uitstekend, baie bly hulle is vasgetrek!! Met medelye aan die familie…

Frederik ·

Miskien ‘n dom vraag !? Is daar nie ‘n manier om Lesotho by SA in te lyf nie, miskien as ‘n 10 de provinsie. Of sluit die grense permanent. Hul burgers loop heen en weer oor die grense net om misdaad in SA te pleeg. Hulle is vir geen ander rede hier nie.

Uys ·

Maroela is jul seker oor jul feite.
Opskrif lees 3 vas
Berig begin met 3 mans en ń vrou en ouderdom word gegee.
Ek dink dit moet 2 mans en ń vrou wees?

Landi Slatter ·

Dagsê Uys en Cherokee,

Dankie vir julle terugvoer. Daar is inderdaad net twee mans en een vrou in hegtenis geneem. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Cherokee ·

Moet nie so ernstig wees nie Landi… dit was met ‘n glimlag gesê :-)

Veritas ·

‘n Metrobeampte in Standerton? Die plek moes geweldig gegroei het sedert ek laas daar was. Ek is nog altyd onder die indruk dat dit dorp is.

Cherokee ·

Maroela, julle het verkeerd getel – 3 mans en ‘n vrou is vier.

Grap ·

Jammer hulle net ‘n verkiesing plakkaat verniel het want dan was hulle lot verseel.

lynette ·

Veritas, Standerton is n dorp, ek glo dis n Metro polisieman, verkeersman maw.

Cherokee ·

Lynette, wat Veritas sê is dat spietcops in Pofadder is nie metropolisie nie. Miskien is hy reg.

KarooKlong ·

SA se wette en regstelsel is so deurmekaar, selfs buitelanders dink dit is maklik om hier by ons aan te jaag en “weg te kom”.
Goed gedoen deur die beamptes.

Attie ·

Ek woon hier naby, en volgens my is dit n Provinsiale Verkeersbeampte. Rip en dit omdat jy net jou JOB gedoen het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.