Drie vas met R2,3 miljoen se dagga

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Die Noordwes-polisie het drie mans van Lesotho in hegtenis geneem met meer as R2,3 miljoen se dagga in hul besit.

Sers. Kelebogile Moleko, woordvoerder van die polisie, het gesê die drie, tussen die ouderdomme van 21 en 37, is in hegtenis geneem terwyl die polisie Vrydag besig was met roetine-patrollie. Nadat die Sannieshof-polisie ʼn wenk ontvang het om op die uitkyk te wees vir twee verdagte voertuie met Lesotho-nommerplate, het hulle die Toyota Corolla en Iveco-bussie in die dorp gewaar.

Twee Noordwes-polisiebeamptes by die dagga waarop daar beslag gelê is. Foto: SAPD

Twee Noordwes-polisiebeamptes by die dagga waarop daar beslag gelê is. Foto: SAPD

“Die polisie het die twee voertuie probeer aftrek, maar hulle het weggejaag en die polisie moes hulle agternasit,” het Moleko gesê. “Die Corolla en die bussie het albei in verskillende rigtings gejaag en is deur polisievoertuie agtervolg. Die bestuurders van die onderskeie voertuie het beheer oor die voertuie verloor en die motor sowel as bussie het gerol.”

Die polisie het twee verdagtes in hegtenis geneem terwyl ʼn derde verdagte, wat beseer is toe die motor gerol het, tans onder polisiebewaking in die hospitaal is. “Daar is op dagga ter waarde van R2,3 miljoen beslag gelê. Die verdagtes was glo op pad met die dagga na Deelpan,” het Moleko gesê.

Twee verdagtes sal Maandag in die Delareyville-landdroshof verskyn, terwyl die derde verdagte sal verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann Marx ·

En wat gaan die polisie hiermee maak? Aan die brand steek. Is dit nie maar wat die “kopers” hiervan ook sou doen nie? Ten minste sou daar R23 miljoen van hande verwissel het….en die ekonomie ‘n hupstootjie gekry het. Nou meng die polisie in…..en besigheid taan. Amper nes die Prez…….

Netso ·

Se ek ook en raai wat? Die mense wat dit rook bly baie gesond en ons wat die wet gehoorsaam kry siektes en kan geen medies bekostig nie. Stop drank en los dagga.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.