Drie vas ná aanval op Noordwes-kleinhoewe

Die man se liggaam is in ‘n sloot aangetref. (Argieffoto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Drie mans verskyn na verwagting Maandag in die Brits-landdroshof in verband met die wrede moord op ʼn veiligheidswag in Noordwes.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê Samuel Maposa (41) se liggaam is Woensdag kort na middernag deur ander werkers op die kleinhoewe in Remhoogte, in die Hartbeespoortdam-omgewing, aangetref. Hy het verskeie beserings aan sy gesig en kop gehad, sy hande en voete was vasgebind en sy liggaam is sowat 50 m van ʼn stoorkamer in ʼn sloot gevind.

“Die voorlopige ondersoek dui daarop dat twee stoorkamerdeure oopgedwing en landbouchemikalieë ten bedrae van sowat R30 000 vermis word,” sê Myburgh.

Sake van moord en huisroof is aanhangig gemaak.

Myburgh sê die polisie het Donderdag inligting ontvang dat landbouchemikalieë in die Shamburg- informele nedersetting in die omgewing verkoop word.

Lede van die Hartbeespoortdam-misdaadvoorkomingseenheid het die eerste verdagte kort daarna, in die vroeë oggendure, in sy huis in die nedersetting aangekeer. Die tweede verdagte is in dieselfde nedersetting in hegtenis geneem. Die derde vermeende betrokkene is daarna by sy huis in Bapong, naby Brits, gevang.

Die polisie het beslag gelê op die chemikalieë wat vermoedelik gesteel is, ʼn Toyota Hilux wat vermoedelik tydens die misdaad gebruik is, sowel as bloedbevlekte kledingstukke.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiehoof, het die polisie vir hul ondersoekwerk geloof en onderneem dat die polisie sal voortgaan met sy pogings om landelike veiligheid te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Samuel ·

Hopelik kom hierdie vermeende moordenaars nie weg nie. Dit is hoogtyd dat die SAPD landwyd hulle pogings verskerp om landelike veiligheid te verseker.

Rooikoos ·

Watse pogings tot landelike veiligheid te verseker is tot op buide gedoen? Ek het nêrens van enige aksieplanne gelees nie.

Jakes ·

Hierdie gewetenlose kriminele vermoor mense asof dit n geringe oortreding is en verkoop dan die buit in dieselfde omgewing. Afgesien van die feit dat hulle geen respek vir lewe toon nie, blyk dit dat hulle n gebrek aan opvoeding het en boonop is daar geen pille vir domgeit nie.

Dries ·

Ek vermoed die wag is vermoor omdat hy die aanvallers sou herken. Hoe het hulle geweet van die kunsmis in die pakkamer. Huidige of voormalige werkers?

Regverdigheid ·

So verkeerd moord moord al wat mens sien deesdae, ANC moet wakker word en begin optree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.