Drie vas ná akteur sterf in kapingsdrama

Dumi Masilela (Foto: Twitter)

Drie verdagtes is in hegtenis geneem in verband met ʼn gekaapte voertuig wat betrokke was in die kapingsdrama waarin die Rhythm City-akteur Dumi Masilela (29) op 3 Augustus gesterf het.

Lt.kol. Dlamini Lungelo, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig die verdagtes is Donderdagmiddag in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig Masilela en ʼn vriend is in die middernagtelike ure in Tembisa in Gauteng gekaap. Masilela en sy vriend het van die kapers probeer ontsnap deur weg te jaag, maar hy is in die proses noodlottig gewond. Die akteur is die volgende oggend ná ʼn paar uur in die hospitaal oorlede.

Lungelo sê die verdagtes wat in hegtenis geneem is, word nie in dié stadium aangekla van moord nie, maar die besit van ʼn gekaapte voertuig wat in die kapingsdrama betrokke was.

“Die polisie ondersoek tans die saak om hul betrokkenheid by die kaping te bewys, al dan nie. Die verdagtes het Vrydag [18 Augustus] in die hof verskyn, maar die saak is uitgestel vir nadere ondersoek deur die polisie,” sê hy.

Lungelo sê minstens een van die verdagtes kan verbind word met twee ander soortgelyke gevalle in Mpumalanga.

Al die verdagtes is tans in aanhouding.

Mzwandile Masina, Ekurhuleni se burgemeester, het vroeër vandeesweek Masilela se begrafnis bygewoon waar hy aan die familie bevestig het dat die verdagtes in hegtenis geneem is.

Masilela, wat al vir vyf jaar die rol van Sifiso Ngema op Rhythm City vertolk, het sy professionele loopbaan in sokker vir onder meer SuperSport United vaarwel geroep ná ʼn besering in ʼn motorongeluk ʼn paar jaar gelede. Hy en Simphiwe Ngema is vroeër vanjaar getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jakes ·

Dis nogal opvallend vanessa,wonder of die gemeenskap en sap(d) tog hulle werk doen as dit hulle pas

karen ·

Nogal ne en geen burgermeester of enige staat/saps afvaardiging het nog ooit enige boer se begrafnis bygewoon en die familie verseker die skuldiges is gevang ….. wow hulle is gevang nog nie skuldig bevind en gevonnis. en terloops is noodlottig nie dood op slag ? hoe sterf noodlottig gewonde enkele ure daarna in hospitaal ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.