Drie vas ná bende op Sassa-betaalpunt toeslaan

Sommige van die items waarop die polisie beslag gelê het. (Foto: SA Polisie)

Drie mans wat glo ʼn betaalpunt van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) in Bergendal in Limpopo beroof het, is reeds aangekeer.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê altesaam vyf verdagtes het Woensdag kort na 09:00 by die betaalpunt opgedaag en een van die kassiere met ʼn vuurwapen gedreig en beveel om ʼn kluis oop te sluit.

“Drie van die rowers het veiligheidsbeamptes ontwapen. Die verdagtes het daarna geldsakke met uiters baie kontant uit die kluis geneem, dit in ʼn wit Toyota Yaris gelaai en weggejaag,” het Mojapelo gesê.

Die polisie is ontbied terwyl die rooftog nog aan die gang was en hulle is inderhaas na die toneel, terwyl hulle ook bystand van nabygeleë polisiestasies soos Senwabarwana, Tolwe, Mokwadi en Saamboubrug ontbied het.

Een van die voertuie wat die rowers verlate agtergelaat het. (Foto: SA Polisie)

Lede van die hoofwegpatrollie, die honde-eenheid, die taktiese reaksiespan en die lugvleuel het ook by die soektog na die bende aangesluit.

Die helikopter se bemanning het die verdagtes se voertuig uit die lug dopgehou en hulle het later uit die motor gespring en te voet verder gevlug.

“Drie van hulle is voorgekeer en in hegtenis geneem, terwyl nog twee inhegtenisneming ontduik het,” het Mojapelo gesê.

Die polisie het beslag gelê op vyf vuurwapens, waaronder drie gewere wat by die veiligheidswagte geroof is, twee sakke met geld en drie voertuie.

Die soektog na die ander twee verdagtes duur intussen voort.

Lt.genl. Nneke Ledwaba het die polisie vir hul blitsige optrede geloof en hul gevra om die twee voortvlugtiges ook op te spoor.

Die verdagtes, onderskeidelik 40, 42 en 53 jaar, verskyn Vrydag in die Senwabarwana-landdroshof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Scalla ·

Dankie almal betrokke, enigste goeie nuus vir die oggend!!

tweeling ·

Een van die gewere lyk na ‘n R5, kan net van die weermag of polisie kom

Wayne ·

Robert daai geweer is n Dashprod. Lyk soos, maar is nie n R 5 nie. Terloops, die berig meld dat die 3 gewere afgeneem was van die sekuriteitswagte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.