Drie vas ná betogers pad opkap 

Drie mense is in hegtenis geneem nadat betogers vroeër die week paaie beskadig het tydens ʼn diensleweringsbetoging in die omgewing van Pomeroy in KwaZulu-Natal.

Die betogers het die R33-pad tussen Pomeroy en Dundee met klippe versper en ʼn pik gebruik om die pad op te kap. Inwoners in die omgewing is ongelukkig oor die gebrek aan water en elektrisiteit en dring aan dat die uMzinyathi- en Msinga-munisipaliteite werkgeleenthede verskaf.

Drie verdagtes is op aanklag van openbare geweld in hegtenis geneem en sal Vrydag in die Dundee-landdroshof verskyn.

Bheki Ntuli, LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in KwaZulu-Natal, het die kwaadwillige beskadiging van eiendom veroordeel en wetstoepassingsagentskappe versoek om hul pogings te verskerp en te verseker dat wet en orde gehandhaaf word.

Hy het ook ʼn beroep gedoen op die polisie om al die betrokke verdagtes in hegtenis te neem.

“Ons sal nie toelaat dat betogers amok maak en ons openbare paaie opgrawe nie, want dit sal tot ongelukke en sterftes lei. Die departement van vervoer het nie begroot vir die herstel van die R33 nie aangesien alle fondse opsy gesit is om nuwe paaie te bou en ons verouderende padnetwerk in stand te hou.”

Hoewel gemeenskapslede die vryheid het om hul reg om te betoog uit te oefen, moet dit binne die raamwerk van die wet gedoen word en nie die lewens van wetsgehoorsame burgers in gevaar stel nie. “ʼn Sterk polisieteenwoordigheid, insluitend lede van die openbare-orde-eenheid, is ontplooi om die situasie te monitor.”

Petros Ngubane, burgemeester van die uMzinyathi-munisipaliteit, het ʼn beroep op inwoners gedoen om kalm te bly en gesê aandag word aan hul besware gegee.

Volgens Ngubane is die plaaslike en distriksmunisipaliteit in gesprek met die provinsiale regering en word onverpoos gewerk om ʼn oplossing te vind om dienslewering aan inwoners te bespoedig.

“Die beskadiging van infrastruktuur sal nie die situasie verbeter nie, maar eerder die vordering wat reeds gemaak is om ontwikkeling vir ons inwoners te bring, ongedaan maak.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cornelius

Hulle sal niks oorkom nie, maar bevorder word to senior SAKP en ANC lede.

Daleen

Dis nou ‘n kwessie van sny jou neus af om jou gesig te spite….. Belaglik!

Lian

Al weer die ou storie : hulle beskadig hul eie . Gaan my verstand te bowe

AJ

Dis hul verdiende loon!
Hulle het vir die ANC gestem in die vorige verkiesings?

Daar boemerang hulle ‘swak’ oordeel deur vir ‘n rampokker party te stem.

Hulle party het die land verraai deur ál die bates te stroop en die industrië te ‘teister’ … nou is daar nie (belasting) geld oor om infrastruktuur mee te bou nie.

Helen Zille noem dit ‘black privilege’ …. rampokkers en stropers word herhaaldelik ingestem.

Wie gaan vir daardie ‘saboteurs’ verduidelik dat hulle hulle VOTE moet gebruik vir vooruitgang?

Strandloper

Nogal talentvol met n pik…die logiese verwagting sou vuur maak wees? Wens tog hy kan n kontrak in die parlement kry…dink net…