Drie vas ná groot dwelmvonds

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Drie mense is in Kaapstad in hegtenis geneem nadat die Valke op Mandrax-tablette ter waarde van R5 miljoen, wat in die panele van drie voertuie versteek was, beslag gelê het.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê hulle het inligting ontvang oor Mandrax-tablette wat van Gauteng na die Wes-Kaap vervoer word. Drie voertuie is Sondagaand by die Huguenot-tolhek naby Kaapstad van die pad af getrek.

Volgens Mulaudzi is 117 000 Mandrax-tablette ter waarde van R5,2 miljoen in die motors gevind. Daar is ook op 10 000 Ecstasy-tablette ter waarde van R500 000 en ʼn onbekende bedrag kontant beslag gelê. Die dwelms en kontant was in panele in die voertuie versteek.

Die drie verdagtes, tussen 20 en 40 jaar oud, sal Woensdag in die Paarl-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met dwelmhandel. Volgens Mulaudzi het die verdagtes kriminele rekords.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.