Drie vas ná Gupta-klopjag

Foto: Getrude Makhafola/ANA

Drie mense is in hegtenis geneem ná die Valke en die polisie op die Gupta-familie se huis in Saxonwold toegeslaan het.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het bevestig drie verdagtes is in hegtenis geneem en dat twee mense hulself na verwagting binnekort aan die polisie sal oorgee. Volgens mediaberigte is ‘n Gupta-broer reeds in hegtenis geneem.

Mulaudzi het gesê die klopjag by Saxonwold is afgehandel en dat daar nou na ander adresse beweeg word. Talle voertuie met flitsende blou ligte het vroeër buite die Saxonwold-huis opgedaag en ʼn kort rukkie later die perseel binnegegaan.

Die Valke is later daar weg, gevolg deur twee luukse voertuie. Daar is glo ook op dokumente beslag gelê tydens die klopjag.

Die klopjag by Saxonwold hou verband met die Gupta-familie se verbondenheid aan die Vrede-suiwelprojek asook die voortslepende staatskapingsondersoek.

Die Valke het verlede maand op die Bloemfontein-kantoor van Ace Magashule, premier van die Vrystaat, toegeslaan in verband met die omstrede Vrede-suiwelplaas. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ook ʼn bewaringsbevel bekom teen die Estina-suiwelprojekplaas wat Gupta-bande het.

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

Daar is verlede jaar onthul dat die Guptas glo miljoene rande gekry het van die Vrystaatse regering se suiwelprojek in Vrede. E-posse wys glo hoe miljoene rande na Gupta-maatskappye oorbetaal en gebruik is om onder meer vir die Gupta-troue te betaal. Die joernalistieke ondersoekeenhede amaBhungane en Scorpio beweer R84 miljoen wat deur die Vrystaatse regering aan die suiwelprojek gegee is, het in die Guptas se hande beland.

In Januarie is adj.pres. Cyril Ramaphosa deur die DA versoek om te verseker dat die land se grense op ʼn hoë gereedheidgrondslag geplaas word nadat die Valke glo lasbriewe verkry het om minstens een van die Gupta-broers in hegtenis te neem.

City Press het destyds berig die Valke het op aanklaers van die NVG gewag om die lasbriewe te teken sodat die inhegtenisnemings gedoen kan word.

City Press het ook berig daar is beweer die NVG se batebeslagleggingseenheid sou toe nog bewaringsbevele bedien aan maatskappye wat met die beweerde staatskaping, waarby die Gupta-familie geïmpliseer word, verbind kan word. Volgens City Press is die bewaringsbevele vir bates ter waarde van ongeveer R1,6 miljard.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

JoeV ·

Te haastig, gee kans, hoop die verwagte skoonmaak begin net sodra iemand uit sy kantoor stap…. of begely word.

Plantasie Gorilla ·

Dis goed en wel , maar die hoof orkestreerder gaan gewetenloos aan om homself te probeer beskerm. Wanneer word hy in hegtenis geneem ???

neels ·

Bietjie te laat sou ek se alle bewys stukke is klaar vernietig. Dan het hulle ook nie verniet in sekere persone bele nie sou die “paw paw” die “Fan strike” Volgens my beskeie mening sal die saak van die rol geskrap word indien nie sal hulle borg kry en die samelewing sal nooit weer van die saak hoor nie.

bb ·

Gee kans. Hierdie mense was almal te gemaklik met wat hulle kon doen. Daar sal wel genoeg bewyse wees teen die “ontasbares”

Eben ·

Ek dink daar gaan nog baie wurms uit die blikkie kom. Dit kan maklik beteken dat ons binnekort ‘n nuwe kabinet gaan hê. Ek dink baie ministers is baie bekommerd.

Lee ·

Ek het vandag ‘n baie Happy-hart ! Nie omdat dit Valentynsdag is nie –
MAAR omdat baie van die afgelope ruk se duisterhede nou aan die lig kom.
Ten einde laaste voel dit of geregtigheid begin geskied, soos wat dit hoort.
Zuma/Guptas/Eishkom/SABC en en en…
Ek glo, en is dankbaar vir Jacque Pauw se boek – wat so baie dinge geopenbaar het (en ek het nog maar net 11 van 18 hoofstukke gelees)
Ek glo ook dat die wiel besig is om te draai – na die Lig toe – positiewe dinge is opad vir SA – my land, waarvoor ek lief is.
En ja, ek glo ook dat Jesus ons gebede verhoor het om hierdie korruptes te ontbloot en ons weer op die herstel pad te plaas.

Koos1 ·

Lee, lees daai boek klaar. Daar sal vir jou baie goed in plek val.
God het die Israliete vir 40 jaar in die woestyn gehou, sodat hulle ‘n waardige leier kon kry. Ek is Hom dankbaar dat on na 9 Jaar iemand kry, om ons te lei en wat Hom ook dien!!!

Boy van die Suburbs ·

Mooi man! Wag nou net vir hul Prokureur Gert van der Merwe se kommentaar hierop!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.