Drie vas ná ‘huurmoord’ op onderwyser

Argieffoto

Drie persone van Burgersfort in Limpopo is in hegtenis geneem in verband met die beweerde huurmoord op ʼn hoërskoolonderwyser van dié provinsie.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê Daniel Ramaipadi (53) is op 22 Julie vanjaar by sy huis in die Ga-Motodi-nedersetting buite Burgersfort vermoor.

Volgens Ngoepe het ʼn onbekende aantal verdagtes Ramaipadi, ʼn voormalige departementshoof, by sy huis doodgeskiet, sy motor gesteel en toe van die toneel gevlug. Die polisie het die voertuig enkele dae later ʼn kort afstand weg van die nedersetting opgespoor.

Ngoepe sê ʼn spesiale taakspan is daarna aangestel om die ondersoek te behartig waarna Vuyela Glenrose Ramaepadi (37), die oorledene se vrou, haar kêrel (42) en die beweerde huurmoordenaar (34) in hegtenis geneem is.

“Die provinsiale taakspan, die ondersoekbeamptes en die misdaadintelligensie-eenheid het daarin geslaag om dié baie gekompliseerde moordsaak op te los. Die ondersoekspanne is oortuig die voorval hou verband met ʼn huishoudelike geskil,” sê hy.

Ngoepe sê die polisie ondersoek die moontlikheid dat Ramaipadi se vrou en haar kêrel saamgesweer het om hom te laat vermoor.

Vuyela het Woensdag op aanklag van moord in die Praktiseer-landdroshof in Limpopo verskyn. Sy is borgtog geweier en kan weer op 13 Desember ʼn formele borgtogaansoek voor die hof bring. Ngoepe sê die ander twee verdagtes sal Donderdag voor die Praktiseer-landdroshof verskyn.

Genl.maj. Bafana Linda, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die taakspan geloof dat hulle dié moordsaak in “ʼn kort tydperk” kon oplos. Hy sê hy hoop die inhegtenisneming van dié verdagtes kan ʼn mate van vrede vir Ramaipadi se familie bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann Marx ·

Doen nou dieselfde met ELKE moord in die land, né? Ook die plaasmoorde….

Tina du Toit ·

Ja, stem saam Johann Marx. Sou dit nie nice wees as al die plaasmoorde ook so vinnig opgelos kan word en misdadigers agter tralies beland. Wens hulle wil regtig moeite doen om paar te laat opsluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.