Drie vas ná moord op KZN-sakeman

Ashver Sukwa (Foto: Facebook)

Drie verdagtes is Sondagaand in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn 35-jarige sakeman van KwaZulu-Natal.

Ashver Sukwa is Saterdag vroegoggend in sy huis in Fairbreeze, Tongaat, met ʼn skerp voorwerp doodgesteek. Sy 65-jarige pa het ook ernstige steekwonde in die voorval opgedoen en is na ’n hospitaal gehaas vir mediese behandeling.

Die pa en seun het glo ’n groente-en-vrugte-onderneming van die huis af bedryf.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, sê die drie verdagtes, onderskeidelik 20, 22 en 32 jaar oud, is Sondag omstreeks 22:00 vasgetrek.

“Lede van die Tongaat-polisie het inligting opgevolg wat hulle na Ndwedwe gelei het waar twee van die verdagtes in hegtenis geneem is. ʼn Bedrag van R85 405 is in die besit van een van die verdagtes gevind,” sê Mbele. Daar is ook op ʼn bloedvlekte mes beslag gelê. Die derde verdagte is kort daarna in die Bo-Tongaat-gebied vasgetrek.

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Verulam-landdroshof verskyn op aanklag van moord, poging tot moord en huisroof.

Sukwa en sy is pa is na bewering Saterdag omstreeks 05:45 in hul huis deur ʼn groep mans oorval. Sukwa is in die proses doodgesteek en sy pa met die mes gewond. Die huis is geplunder en twee kluise is leeggemaak en huishoudelike items is gesteel. ʼn Vuurwapen is ook gebuit.

Prem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa), sê Sukwa se pa is in ʼn koelkamer toegesluit nadat hy met ʼn mes gesteek is.

Nooddienste is vroeg Saterdagoggend na die huis ontbied (Foto: Verskaf)

“Ons nooddienste het omstreeks 04:45 ʼn oproep van ʼn man ontvang wat gesien het dat Sukwa se huis se agterdeur en hek oopstaan. Hy het ook bloed op die vloer opgemerk,” vertel Balram.

Rusa se nooddiensspan van Tongaat en Ballito is na die huis gestuur.

“Die bejaarde pa is in die kombuis gevind. Sy klere was vol bloed. Hy is minstens vier keer met ʼn mes gesteek.”

Die pa het aan die nooddienste vertel dat hy Saterdagoggend die huis oopgesluit het vir een van hul werknemers wat ʼn vrag piesangs na die mark moes vervoer. Die werknemer en drie ander mans het hom toe glo oorval.

Na ʼn geruime tyd kon die pa daarin slaag om uit die koelkamer te kom en terug te gaan na die huis. Die verdagtes het toe reeds gevlug.

Balram sê die pa het die nooddienste ingelig dat sy seun ook in die huis moes wees, maar hulle kon hom nie onmiddellik opspoor nie.

“Hy het aangeneem dat sy seun agter die verdagtes aan is omdat sy vuurwapen uit die kluis was.”

Daar is bloed op een van die beddens in die huis gevind. Sukwa is op die vloer aantref waar hy in ʼn laken en kombers toegedraai was.

“Hy is uit die kombers gehaal. Paramedici het ontdek dat hy minstens 35 keer gesteek is. Hy is op die toneel dood verklaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Casper ·

Wat kan mens se.Hoekom nie roof en vat wat jy soek nie.Hoekom moord pleeg.

Andre ·

Die land se naam kan maar verander word na Crime State SA.Dit is al wat hier is.Misdaad elke dag en nag.Dit gaan nie ophou of verander nie.So wees oplettend en waaksaam by die huis en in die publiek.Ons tyd is dalk nader as wat ons dink.

Misky ·

Weer werkers betrokke. Dit raak net meer duidelik dat niemand vertrou kan word nie en ons sal alles self moet doen. Werkloosheid gaan net meer raak

Rose ·

Wat n pragtige jong man, dit is so onnodig. Hulle was daarop uit om hom te vermoor.

Niklaas ·

Dit was toe weereens ‘n “inside job” . Duidelik was daar kennis gedra van geld in die kluise.

Jakes ·

Kriminele staat, mislukte staat wat deur misdaad lam gele word.

johanf ·

Dankie SAPD….
Sterkte met die pa en naasbestaandes…
Tragies…!!

Opdiemanaf ·

Ooglopend n suksesvolle jong man!! Word net al hoe duideliker dat suksesvolle besighede ens. geteiken word!! En hoe meer suksesvolle sakemanne verdwyn, hoe minder werksgeleenthede!! En dan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.