Drie vas ná moord op motorfietsverkoper

Chris en Rouxnet Williams in Junie verlede jaar, twee maande voor hul troue. Foto: Facebook

Waarskuwing: Dié berig bevat grafiese beskrywings wat sensitiewe lesers kan ontstel.

Drie verdagtes is in hegtenis geneem ná die moord op ʼn man van Mokopane wat sy motorfiets op Facebook geadverteer het.

Kol. Moatshe Ngoepe, Limpopo-polisiewoordvoerder, kon Woensdagoggend by navraag nie die drie se inhegtenisneming bevestig nie, maar ʼn familielid van die vermoorde Chris Williams (31) het aan Maroela Media gesê hulle is Dinsdag aangekeer.

Williams, ʼn elektromeganikus by Anglo Platinum wat vyf maande gelede getroud is, is Maandagaand by sy huis met ʼn mes doodgesteek nadat ʼn man, vergesel van twee makkers, na die motorfiets wat hy geadverteer het kom kyk het.

Hulle het die deur agter hulle toegemaak en toe het die hele ding ontstaan.

Sy swaer, Theo Luus, het aan Maroela Media gesê Williams het die drie mans na die motorhuis geneem waar die motorfiets geparkeer was. Sy vrou, Rouxnet, was in die huis.

Rouxnet het pas ’n weduwee geword, skaars vyf maande nadat sy getroud is. Foto: Facebook

“Hulle het die deur agter hulle toegemaak en toe het die hele ding ontstaan,” sê Luus met verwysing na die noodlottige woordewisseling tussen Williams en die drie besoekers. “Hy het hulle ‘uitbaklei’ deur die deur tot in die straat, waarna hulle in hul Isuzu-bakkie gespring het.

“Chris het daarna inmekaargesak [weens talle meswonde]. Die bakkie het gery en die laaste een van die drie het agterna opgespring.”

‘n Inwoner het Williams sy naam twee of drie keer benoud hoor roep.

Hy sê Williams was “nog besig om te roggel in sy bloed” waar hy op sy rug in die oprit gelê het. “Sy lippe het beweeg, maar daar het nie klank uitgekom nie.”

Die motorfiets wat Williams wou verkoop het. Foto: Facebook

Hy het dadelik die buurtwag ontbied omdat hulle die polisie en nooddienste se kontaknommers by hulle het. “Chris het seker nog so vyf tot sewe minute geleef. Ek het by hom gestaan en aan hom gevat om ʼn reaksie uit hom te kry.”

ʼn Veiligheidswag was eerste op die toneel en het Williams se lewe probeer red, maar volgens die inwoner het hy reeds te veel bloed in sy longe gehad. Hy is minstens vyf keer met ʼn mes gesteek: in sy slagaar, hart, longe, boarm en duim, wat halfpad deurgesny is, moontlik soos hy hom probeer verdedig het teen die wrede aanval.

Sy vrou het nie eens geweet wat gebeur het nie.

“Sy vrou het nie eens geweet wat gebeur het nie,” sê hy. “Sy het eers uitgekom terwyl ons besig was om hom te probeer bykry.”

ʼn Kort rukkie vantevore het hy die bakkie met een verdagte agterop en twee voorin by die huis sien verbyry.

Die inwoner vertel Williams wou die motorfiets verkoop omdat hy en Rouxnet van plan was om vanjaar met ʼn gesin te begin nadat hulle in Augustus verlede jaar getroud is.

Rouxnet het hom vertel die koper was Sondagaand ook daar in die silwerkleurige Isuzu-bakkie.

Die belangstellende koper werk glo by ʼn veiligheidsmaatskappy in Polokwane, waarheen die selfoon nagespeur is waarmee hy met Williams gereël het om na die motorfiets te kom kyk.

[Red] Die berig is aangepas sedert dit oorspronklik gepubliseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Jepetto ·

Dankie vir die inligling Maroela die storie raak my persoonlik baie .Ek sal graag gereg en geregtiheid wil sien seevier .Dit was so onnodig die aanvallers hoort glad nie in die samelewing nie .Hou ons ophoogte wat van die vuilgoed geword het. My voorstel steek hulle lewndig aandie brand

PJC ·

Ja Jepetto ek dink baie van ons koester al wraakgedagtes oor alles wat rondom ons aangaan.

Essa ·

Baie bly oor vordering met aankeer van verdagtes. Groot simpatie met Rouxnet, familie en vriende. Sterkte.

Michael ·

En nou word hulle beskerm deur die staat More uit op borg .Dit bring hom nie terug nie Dit moet erg en baie erg vir sy vrou en famielie wees mens kan net bid vir hulle.Ai sterkte aan hulle deur die tawwe tyd

Michael ·

En hulle kla die oom in Grabouw aan vir moord hy was ook met n mes aangeval!!!!!!!!!

Elize ·

Die volgende wet moet ingebring word “doen aan ander wat aan jou gedoen word”. Die meshandelaars gaan werklik ‘n slag slaan met verkope want daar is soveel wesens wat hierdie pad moet en gaan loop

Al ·

Sterkte aan sy familie. Dis so onnodig en hartseer.
Dis verskriklik wat die arme man moes deurmaak voor sy dood.

Libby ·

Anoniem ek twyfel sterk of sy die verskoning wat sy verdien ooit gaan kry. Dis mos maklik om vinger te wys en nie in ag te neem waardeur sy moes en steeds gaan nie… mense wat klippe gooi tel nooit dieselfde klip op nie…

My gebede is by sy vrou en familie, daar lê nog ‘n lang seer pad vir hulle voor.

wet ·

Wat ek nie verstaan nie is hoe jy 3 onbekende mans in jou eie garage kan inneem om ´n transaksie te beklink. Dit doen mens nooit, jy gaan doen dit in ´n publieke area.

George ·

Ag” wet,” hou tog net op om altyd te wil kritiseer of is jy ook een van daardie perfektes wat nog nooit ‘n fout begaan het nie. Ek sou dalk dieselfde gedoen het omdat ek nie altyd aan geweld dink as ek ietsie wil verkoop nie.

Jessica Schutte ·

Ek stem saam enige men’s hetni gedink so iets sal gebrur nie .

Jemima ·

Nog ‘n sinnelose moord. Hopelik kry die boosdoeners wat hul verdien.

MANIE ·

In n vorige berig het n paar mense gevra na wie gesoek word. Die feit dat die drie in townships in hegtenis geneem vertel dalk na wie gesoek is

apie ·

‘Wet’ is reg. mens kan niemand vertrou nie. nie eens veiligheidswagte nie. moenie naief wees nie, mens verwag dit nie, maar dit is lank nie meer n gewone land nie. Innige simpatie aan sy familie

Bystaander ·

As ‘n toevallige verbyganger kort na die gebeure wil ek die buurtwag, paramedici en privaat sekuriteit prys vir hoe vinnig hulle op die toneel was. Om nie te praat van ‘n buurman wat sy eie veiligheid verontagsaam om sy medemens te hulp te snel nie. In vandag se lewe sou ander in sy skoene dalk 2 keer gedink het voor hulle reageer het. Julle is ysters manne! ‘n Bewys van ‘n gemeenskap wat omgee vir mekaar.

MW ·

Ons praat daagliks oor die feit hoe ons in tronke (agter tralies en ge-elektrifiseerde heinings) bly , en die boosdoeners loop los op die strate.

My innige simpatie met die familie. Heel moontlik ‘n sindikaat wat al geruime tyd besig is?

Marie Beukes ·

Presies een maand gelede is Chris Williams se suster getroud en hy was so vriendelik en rustig. Nooit het ons gedink ‘n maand later sal hy nie meer daar wees nie. Baie sterkte aan die familie en sy vrou – dis’ n groot verlies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.