Drie vas ná moord op polisieman

(Foto: SA Polisie)

Die Valke het ʼn groot deurbraak gemaak deur drie mans binne etlike ure nadat hulle glo ʼn konstabel in sy huis in Bloemspruit in Bloemfontein doodgeskiet het, vas te trek.

Die oorledene, konst. Ofentse Odirile Katlego Mokgadinyane (31), was by die Parkweg-polisiestasie in Bloemfontein gestasioneer.

Ao. Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke, sê twee verdagtes het na bewering Mokgadinyane se huis se agterdeur oopforseer en só toegang tot die huis verkry.

“Net nadat hulle die huis betree het, het hulle dadelik op die konstabel begin losbrand,” sê Steyn.

Die Valke het Maandag omstreeks 23:00 die drie verdagtes, 29, 23 en 22 jaar oud, vasgetrek in verband met die konstabel se skietdood.

ʼn 9 mm-vuurwapen, een magasyn ammunisie, ʼn skootrekenaar en ʼn bruin beursie is in hulle besit gevind, items wat glo aan Mokgadinyane behoort het.

Dit is verder vasgestel dat die vuurwapen waarop beslag gelê is, glo in Hennenman gesteel is.

ʼn Saak van moord, diefstal, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie word deur die Valke ondersoek.

Die verdagtes sal na verwagting Donderdag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Is erg as mens dink die wat die moord gepleeg het so jong is en net alles in ons “Nuwe S.A” geleer het. Dan vra ek watter voorbeelde is daar van 1994 tot nou dat juig so uitdraai.

Vanessa ·

Ja nee die polisie het goeie werk gedoen, maar die regstelsel is ‘n grap. Hulle gaan nou net beter raak in die tronk en hulle werk voortsit as hulle uitkom. Hulle gaan seker ook maar net 10 jaar kry. Suid Afrika kyk mooi na die misdadigers, satan se kinders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.