Drie vas ná moord op polisieman

Argieffoto

Argieffoto

Drie verdagtes is in hegtenis geneem ná die moord op die 52-jarige polisiebeampte van Siloam naby Louis Trichardt in Limpopo. Ao. Thomas Mabada is Maandagaand koelbloedig doodgeskiet toe hy gewapende rowers agternagesit het.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die verdagtes is in hegtenis geneem deur ʼn span speurders en lede van die misdaadintelligensie-eenheid wat ʼn vlaag sakerooftogte in die Mogwadi-omgewing ondersoek het.

“Die beamptes het inligting opgevolg en die verdagtes Woensdagaand in Thohoyandou opgespoor,” het Otto gesê. “Die verdagtes het probeer vlug, maar is opgespoor en in hegtenis geneem.”

Otto het gesê die verdagtes word reeds verbind met verskeie sake van huisroof, sakeroof en kapings in die groter Thohoyandou-omgewing. “Verdere deeglike ondersoek deur die span speurders het bepaal dat die verdagtes met die moord op ao. Mabada verbind word.”

Die polisie het beslag gelê op vermeende gesteelde goedere soos skootrekenaars en selfone wat in die verdagtes se besit was.

Die verdagtes sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn. Die polisie is nog op soek na drie of vier verdagtes.

Maroela Media het vroeër berig Madaba was by die Siloam-polisiestasie gestasioneer. Hy was op patrollie saam met ʼn kollega op die pad tussen Siloam en Thohoyandou waar talle voorvalle van gewapende roof by sakeondernemings die afgelope tyd plaasgevind het.

“Hulle het inligting ontvang oor ʼn verdagte voertuig in die omgewing en dit gevolg nadat hulle dit opgemerk het, ” het Otto vroeër gesê. “Die voertuig het afgedraai op ʼn grondpad en toe die polisiemotor agternakom, is skote afgevuur. Die adjudant-offisier is raakgeskiet en is op die toneel dood.”

Altesaam vier polisiebeamptes is vanjaar reeds in Limpopo vermoor. Anders as Mabada was die ander drie beamptes nie aan diens nie toe hulle vermoor is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eddie ·

Baie mooi aan die SAP en speurders wat hulle vasgetrek het. Maar in die selfde asem vra ek hoekom kan ander moordenaars wat boere op hulle plaasse nie so vinnig gevang word nie. Ek dink nie ek moet my asem ophou vir n antwoord op dit nie. Ons almal weet wat dit is.

franscois ·

Hi arme hulle, nou gaan hulle lekker lewe en kos kry in die tronk en n lekker warm bedjie met kombersie en n dak oor hulle koppe,daar is geen ding soos misdadiger brutaliteit nie maar wanneer polisie beamptes na n jaagtog en raakelings raakgeskiet word en n moordenaar, verkragter,dief en wat nog doodskiet, dan word dia beamptes toegesluit vir moord, want ons le dan nou ongewapen sonder ammunisie op die grond, hierdie regering beter baie vining die doodstraf gaan bekyk en ophou goed wat nie verdien om te lewe nie in alreeds oorvol tronke prop nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.